
KAREN VENTER
Vyf dae na ‘n aanval op ‘n geliefde Polo-kwane-arts, dr Tim Scholtz en sy vrou Lynette, is nog geen arrestasies gemaak nie.
Die Polokwane polisie ontken trouens enige kennis van die insident ten spyte van die feit dat verskeie polisiebeamptes reeds die Scholtz-paartjie ondervra het.
Saterdagoggend was ‘n tipiese rustige oggend vir die Scholtze.
Omstreeks 06:30 het me Scholtz die traliehek wat die slaapkamers van die res van die huis skei, oopgesluit, kombuis toe gegaan en die agterdeur oopgemaak. Die traliehek by die kombuisdeur was steeds gesluit, sê sy.
“Ek het vir ons ontbyt gemaak en rustig in die slaapkamer geëet toe ons hond, Cheeky skielik begin blaf.”
“Ek het gaan ondersoek instel en gesien sy blaf in die rigting van die kantoor wat my man soms as spreekkamer gebruik,” vertel me Scholtz.
Sy het vir haar man gesê sy dink daar is êrens fout. Hy het sy rewolwer geneem en voordeur toe gestap. “Ek het die voordeur oopgesluit en niks gesien nie. Toe maak ek die traliehek oop en stap buite toe. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het omgedraai om die traliehek agter my te sluit terwyl my vrou nog in die slaapkamer gewag het,” sê dr Scholtz.
Toe hy die traliehek toesluit, het iemand van agter op hom geskiet. “Ek het dadelik besef ek is geskiet,” vertel hy.
Die koeël het hom in sy linkerarm net onder sy elmboog getref waarna hy neergeval en sy kop gestamp het. Orals was bloed. “Toe ek opkyk, steeds met my rewolwer in my hand, het ek in die loop van ‘n vuurwapen vasgekyk. Die mans het in die donker kantoor weggekruip en ek kon hulle nie mooi sien nie. Dit was seker van die skok wat ek my rewolwer laat sak het. Die volgende oomblik was een van hulle by my en het my rewolwer gegryp. Die man met die vuurwapen het dit teen my kop gedruk en ek het geweet, nou gaan ek dood. Maar my vrou het my lewe gered.”
Sy het intussen bekommerd geraak en besluit om self te kom kyk wat gebeur. Halfpad het sy ‘n skoot hoor afgaan. “Ek het terug gehardloop om my rewolwer in die kamer te gaan haal en terselfdertyd die paniekknoppie gedruk,” vertel sy.
Scholtz sê die alarm het afgegaan net toe die skurk sy vuurwapen teen sy kop druk. “Toe hulle die alarm hoor het hulle die pad gevat. Ek het na my kantoor gegaan en die bloeding probeer stop toe ek besef die traliehek is oop. Ek het my vrou geroep en gedink sy is ook aangeval. Toe ek haar sien aankom, was ek nog nooit so bly om enigiemand te sien nie,” sê dr Scholtz.
Sy het hom gehelp om in die motor te klim op pad hospitaal toe. “Chubb Sekuriteit het so vinnig reageer dat hulle daar aangekom het toe ons by die hek uitry.”
Die verdagtes het oor die elektriese heining geklim met behulp van ‘n boom wat te naby aan die muur gestaan het. Die boom is Dins-dagoggend verwyder.
Scholtz het ‘n noodoperasie aan sy arm ondergaan en word na verwagting weer vandag (Donderdag) geopereer.
“Ons wil graag almal vir hul ondersteuning bedank. Ons is baie gelukkig en weet dinge kon baie anders gewees het.”
Polokwane polisiewoordvoerder, ao Lesiba Ramoshaba het Dinsdagmiddag enige kennis van die aanval ontken. “Daar is nie so ‘n saak by ons geregistreer nie,” sê hy.


