
Danél Esterhuysen ‘n Bekende plaaslike rekenmeester, mnr Francois du Preez het verlede Donderdag in sy motorhuis selfmoord gepleeg. Volgens ‘n verklaring wat deur Du Preez se prokureur uitgereik is het die oorledene se huishulp, me Melda Molepo, omstreeks 09:30 ‘n geweerskoot gehoor en gaan ondersoek instel en op Du Preez met ‘n koeëlwond aan die kop afgekom. Hy is klaarblyklik onmiddellik dood. Du Preez sou Donderdagoggend ‘n vergadering met sy prokureur, mnr Corrie Nel bywoon, maar het nie daarvoor opgedaag nie. Ondanks talle bespiegelings sal die volle redes vir sy selfmoord volgens die verklaring mettertyd aan die lig kom. Dit blyk dat ‘n verskeidenheid probleme, hoofsaaklik finansieel, net vir hom te veel geword het. Sy verhouding met me Marietha du Preez, sy gewese vrou van wie hy sowat tien jaar gelede geskei is, was goed en hulle het soos groot vriende geleef. Hy het ook ‘n baie hegte verhouding met sy kinders, Francois, Sandra (Van Niekerk) en Gerhard gehad en was besonder trots op hulle. Hy het suksesvol stappe ingestel vir die sekwestrasie van mnr Dirk Redelinghuys, by wie se maatskappy hy en verskeie ander sakemense sowat agt jaar gelede groot bedrae geld belê en verloor het. Die sekwestrasie het daartoe gelei dat Redelinghuys se bates verkoop kan word om skuldeisers te betaal. Du Preez was self een van die grootste beleggers en benewens sy eie gevoelige finansiële verlies, het die verliese wat die ander beleggers gely het, swaar op hom gerus, al was hy volgens sy prokureur nie daarvoor verantwoordelik of aanspreeklik nie. Die feit dat ‘n aantal van sy vriende juis om dié rede teen hom gedraai het, was volgens Nel iets wat hom baie diep geraak het. Hoewel hy vir ‘n geruime tyd neerslagtig was oor die groot verlies wat hy en sekere van sy kliënte gely het, het dit tog onlangs vir sy vrou en vriende voorgekom of hy die verliese en trauma oorkom het en gereed was om met die lewe aan te gaan. Du Preez se vriende sal hom onthou as ‘n joviale mens en lojale vriend met ‘n skerp, dog droë humorsin. Du Preez is Dinsdagoggend vanuit die NG Kerk Pietersburg-Noord begrawe.


