Drie moorde in vier dae

Danél Esterhuysen - DIE gemeenskap is woedend nadat drie mense die week in Limpopo binne vier dae wreed vermoor is en soek antwoorde en dade om die misdade konstruktief te bekamp. Die oproer spruit uit die moorde op mnrre Ron Smith, Etienne Cammaerts en Paul Dunn onderskeidelik Vrydag, Saterdag en Maandag. Die bejaarde Smith (70) is Maandagmiddag dood in sy huis op ‘n plot net buite Bela-Bela deur lede van die polisie aangetref. Volgens inligting was Smith alleen tuis. Toe sy familie in Gauteng hom na talle probeerslae Maandag nie in die hande kon kry nie, het hulle glo die polisie geskakel. Volgens die provinsiale polisiewoord- voerder, supt Ronel Otto is twee polisiemanne na die Smith-huis gestuur om ondersoek te gaan instel waar hulle op die slagoffer se lyk afgekom het. Smith se hande was glo aan sy bed se kopstuk vasgebind en hy het ‘n skietwond in sy lin-kerbeen gehad. “’n Lykskouing sal vandag (Donderdag) gehou word om die presiese oorsaak van die slagoffer se dood te bepaal,” het Otto gesê. Een of meer verdagtes het vermoedelik toegang tot die huis deur ‘n venster verkry. Op die oog af is daar niks uit Smith se huis gesteel nie, maar ondersoeke is steeds aan die gang. Niemand is nog rakende die beweerde moord in hegtenis geneem nie. Drie verdagtes het na bewering Saterdagnag mnr Paul Dunn (49) in sy plaashuis oorval en aangerand. ‘n Oor en weer skietery het tussen Dunn en die verdagtes uitgebreek nadat hy van die geraas in sy huis wakker geword het. Dunn is volgens inligting vier keer in sy nek, bors, regterarm en rug geskiet, terwyl een van die verdagtes in die arm gewond is. Dié verdagte is naby die moordtoneel deur die polisie gevind en is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal waar hy aansterk. Twee van die verdagtes is steeds soek. Dunn is vroeg Sondagoggend dood deur sy seun aangetref. Die vermeende rowers het na die beweerde moord glo Dunn se huisbesittings gesteel en van die toneel gevlug. Gedurende die naweek is mnr Etienne Cammaerts, ‘n 61-jarige Belg van die Corn Hall-plaas naby Villa Nora in die Mokopane-omgewing vermoedelik met sy eie knipmes keelaf gesny. Volgens die slagoffer se vrou, me Ingrid Cammaerts het haar man Vrydagmiddag plaaswerkers gaan aflaai en nooit teruggekom nie. Sy lyk is later die dag naby die plaashek gevind. Volgens inligting is Cammaerts se hande en voete vasgebind en is hy keelaf gesny. Niks is glo gebuit nie en die honde-eenheid sowel as die polisie se lugvleuel is tans besig om die verdagtes op te spoor. Twee verdagtes is intussen vasgetrek en sal na verwagting ook vandag (Donderdag) in die Mokopane-landdroshof op die moordklag verskyn. Die Polokwane Sakekamer het Woensdag sterk reageer na die beweerde moorde en gesê ‘n positiewe oplossing tot misdaadvoorkoming moet dringend in plek tree. “Drie moorde in vier dae is totaal onaanvaarbaar,” het mnr Mokone du Preez, Polokwane Sakekamer se uitvoerende komiteelid vir gemeenskapsveilig-heid gesê. Agri SA hou Maandag ‘n misdaadkonfe-rensie in Centurion waar die veiligheidsituasie op plase met polisieminister Nathi Mthethwa bespreek sal word. • Die provinsiale polisiekommissaris, komm Calvin Sengani het gister ‘n spesiale taakspan bymekaar geroep om te sorg dat die misdadigers verantwoordelik vir die vlaag plaasaanvalle aan die pen ry. Sengani het gister (Woensdagmiddag) gesê hy sal geen moeite ontsien om te sorg dat geweld op die platteland afneem nie. “Die veiligheid van alle inwoners op die platteland word in die stadium as prioriteit beskou en ons sal seker maak dat oortreders nie net vasgetrek word nie, maar ook tot die maksimum vonnis gevonnis word.”