Die Springbok soos 'n vis in die water


Mariëtte van de Werken
Roeléne Bekker, graad 11-leerder is sedert kinderdae versot op water en het haar wildste drome oortref toe sy tydens die onlangse Junior Nasionale Onderwaterhokkie Kampioenskappe Springbokkleure verower het.
Bekker is in Potchefstroom gebore waar sy op laerskool provinsiale kleure in swem verwerf en vir die Suid-Afrikaanse Skolespan aangetree het. In die begin van haar graad 8-jaar het hulle na Tzaneen verhuis waar sy by die Hoërskool Ben Vorster skoolgegaan het.
‘n Jaar later verhuis hulle na Polokwane en sluit sy haar by die Hoërskool Pietersburg aan. Sy verduidelik dat sy eers gesukkel het om aan te pas maar het intussen goeie vriende gemaak en verruil dit nou vir niks.
Op die vraag hoe sy by onderwaterhokkie gekom het, antwoord sy met dankbaarheid in haar oë: "My pa het met ‘n koerant by die huis aangekom wat ek uit verveeldheid begin deurblaai het. Ek het op ‘n berig oor onderwaterhokkie afgekom en so hard begin skreeu dat my ouers in die vertrek ingestorm het om te kyk wat fout is. Ek het dadelik vir hulle gesê ek wil by die Swordfish Underwater Club aansluit. Hulle het verstom gevra of ek ‘n idee het wat die sport behels waarop ek geantwoord het dat ek nie omgee nie, ek sal uitvind, maar ek wil dit doen."
Mnr Paul Eksteen het haar begin afrig en sy het haarself spoedig bewys. Daar is nie genoeg klublede in die stad om aan toer-nooie deel te neem nie en daarom het sy het by Pretoria Sub Aqua Underwater Club aangesluit. Haar grootste uitdaging is om alleen te oefen. Aangesien daar nie ander klublede is nie, gaan sy soggens om 05:00 swembad toe om op haar eie te oefen, veral om haar tegniek te slyp.
In 2009 het hulle span aan die Junior Nasionale Onderwaterhokkie Kampioenskappe in Mosselbaai deelgeneem en ‘n derde plek behaal. Vanjaar het hulle ‘n tweede plek verower.
Opwindende byeenkomste lê vir haar voor. Op 21 tot 23 Maart neem sy aan die Nasionale Senior Onderwaterhokkie Kampioenskappe in Kaapstad deel en in Junie toer die Springbokspan na Europa. Haar ideaal is om in 2011 aan die Wêreldkampioenskappe deel te neem.
Sy is ‘n slimkop wat op akademiese gebied presteer. Na afloop van haar skoolloopbaan beplan sy om haar aktuariële studies aan die Universiteit van Pretoria te begin en as aktuaris te kwalifiseer.
Na voltooiing van haar graad wil sy vir twee jaar oorsee werk om haar studieskuld te delg maar kom defnitief terug Suid-Afrika toe om haar liefde vir onderwaterhokkie uit te leef.
Die natuur lê haar na aan die hart. Sy is ‘n kranige fotograaf en kunstenaar wat graag die natuurtonele wat sy met haar kamera vasvang met verf en kwas uitbeeld.
Dié veelsydige tiener se toekoms lyk beslis rooskleurig. Vir meer inligting oor dié opwindende sport of om by die klub aan te sluit, kan me Daleen Bekker by 083 948 4463 geskakel word.