Die lewe is soos ‘n stort


My man sê altyd ek is te dom om ‘n slagmes te hanteer. (Genadiglik!)

Ek dink ek is ook te dom vir stort. Ek sukkel en die meeste van die tyd vaar ek nie goed nie. Eers stoei ek om die warm kraan te kry. Mens weet mos nooit hoe ver die geyser sit en hoe lank daardie yskoue sproei gaan vat om warm te word nie. Na ‘n hele rukkie kom ek agter dat mens jou nie moet laat lei deur prentjies op krane nie en ek draai die tweede kraan ook oop. Na ‘n ruk word die sproei warm en ek weet steeds nie watter een die regte een is nie.

Eindelik kry ek die water net reg en waag my onder die straal in.  Skielik kraak die pype en alles word ysig koud. Dit slaan my asem weg en terwyl ek, sjampoe-verblind probeer ontsnap, draai ek eers weer die verkeerde kraan oper.

Eindelik het ek die warm kraan oop en skielik stoom die kokende water regaf op my sagste dele. So spook ek tussen halfgaar en erg verkluim. Dan sukkel ek nog om my voete geseep en afgespoel te kry, om nie te praat van plekke wat voutjies en draaitjies het nie!

Eindelik klim ek dankbaar uit en hoop alles is skoon en die seepskuim is afgewas.

So is die lewe ook maar. Wel, myne in elk geval. Ek voel-voel dikwels rond na die regte mens vir die regte doel. Partykeer vra jy vier ouens voor jy die warm een kry. Net so sukkel ek ook soms om my eie warm plekkie te kry. Wonder jy nie ook soms so op ‘n Woensdag-oggend of jy nou eintlik op die regte plek is nie? Ek is nie iemand wat boeke oopslaan en mooi ge-’highlighted’-woordjies neem wat vir my ‘n kriptiese boodskap oor die sin van my bestaan gee nie. Nee, ek ploeter voort en draai al wat ‘n kraan is oop op soek na die regte temperatuur.

Dan is daar die kere dat mense om my yskoud word. Alles lyk nog reg en skielik verander dinge tussen julle so sonder dat jy mooi weet hoekom. En veels te veel kere verbrand mens daardie sagste deeltjies van jou wanneer jy toe-oog, gesig na bo staan en die warm stroom oor jou geniet. Die lewe en mense kan taamlik onvoorspelbaar wees.

Dan is daar ook nog al die ou plekkies wat jy afskeep omdat jy eenvoudig nie daar kan bykom nie! Ek staan lankal nie meer ‘n kans op toekennings vir "Vrou, Ma of Dogter van die Jaar" nie.

Wat dit alles beteken, weet ek nie mooi nie. Ek het nog nie ‘n boodskap ontvang wat vir my in my stortlewe kan help nie.

Een ding is seker, sjampoe in die oë, rooi gebrande boudjies en hoendervleisbene, sal ons nie ophou nie. Nee, skoon moet ons skoon en leef moet ons leef. Dis onvermydelik. Maar dis belangrik om die goeie stryd te stry, of jy nou op die verhoog van die lewe staan of in die stort, ons moet ons bes doen. Self ons ou dommetjies!