Nee, ek besef alte goed ons is reeds in die tweede week van 2011, vreeslik soos dit is! Maar ek sit huidjie en muid-jie met Kersfees se gebakte pere, of is dit nou gemeste Kerskalkoen, verglansde ham, malvapoeding, boontjiebredie en goudgebakte aartappels. Om nie te praat van sjokolade en mentroomys en daardie driehoeksjokolade wat ek by Kersvader afgesmeek het nie.
Ja, ek kan met trots sê ek het my Kersvoornemens vervul. Ek wou kyk hoeveel kilogram ek in 21 dae kon optel sonder enige onwettige stimulante, onwelvoeglike hoeveelhede sjokolade of pienk drankies met sambreeltjies of selfs energie-aanvullings! En ek kan met trots sê dit was amper 2 kg per week. Dink net as hulle my gene kon kruis met ‘n Afrikaner of Bonsmara s’n. Daardie kalwertjies sou die beste daaglikse gewigs-toename kon registreer. Ek het waarlik besondere talente.
Hou op om so hardop te lag. Daar is regtig mense wat sukkel om gewig op te tel. Ek het twee sulke vriendinne. Hulle was nou die dag heel geaffronteerd toe ek aan hulle verduidelik dat hulle bloot so maer is omdat hulle nie van kos hou nie. Hulle hou nie daarvan om dit te maak of te eet nie.
Dit is daarom heel onregverdig om op enige tydstip met hulle vergelyk te word! Ons het eenvoudig verskillende gene. ‘n Mens melk nie resiesperde nie en jy laat ook nie Jersey’s die July hardloop nie. En ek noem niemand ‘n koei nie, hoor.
Maar nou lyk ek soos die gemeste Kerskalkoen met ron-dings oral en hier en daar nog en tussenin ook. En dis 2011, ‘n spik, splinternuwe jaar.
En dis atletiekseisoen vir die kinders wat almal ook maar lekker Kersfees gehou het. Nou dink ek maar so by myself: Kersfees 2011 is amper elf maande ver. Dalk is dit tyd om te kyk hoeveel ek hierdie jaar weer soos my vroeëre, fikser, maerder self kan lyk. Jy ken my mos, ek is glad nie ‘n voorstander van die modellyfies nie. En ek hou van kos en ek kan kook!
Dis net dat ek dink ‘n mens moet darem ‘n tiener kan inhardloop as sy duiwel vat en ma se geduld wil beproef. ‘n Mens moet darem in ‘n winkel kan instap en iets kry wat lekker pas en nie soos ou swart en wit foto’s uit die eerste helfte van die vorige eeu lyk nie. En net nou en dan moet ‘n man, wat nie al twintig jaar met jou getroud is nie, ook na jou kant toe kyk, al is dit net ‘n oomblik.
Ondervinding het my geleer, ek tel vinniger gewig op as wat ek dit verloor. Dis tragies, maar skynbaar is daar geen vinnige fix vir my nie. Ek lees en luister na wat al die mooi en slim en meestal maer mense te sê het. Ek dink aan motiverings en leemtes en hoekom ‘n mens te veel eet. Ek probeer dit alles. Miskien moet ek net konsentreer op die tiener voor my in die pad. Dis dalk al wat nodig is. En as ek bloedrooi in die gesig, stomend, stromend en blasend by die huis aankom, prys ek myself. Ek is immers op pad.
Dink tog aan my. En onthou om my nou en dan moed in te praat. Doen dit voor Desember, want verwyte sal nie help nie. Dis dan mos weer tyd om kalkoen te voer en die varkboudjie te verglans.
Maar tot dan, hopelik al die pad tot dan toe, spook ons dikketjies maar voort!


