Dewald Gouws se eerste CD vlieg van die rakke


Mariétte Snyder
Moenie vir Dewald Gouws op sy baadjie takseer nie. Met die eerste oogopslag sien jy ‘n windlawaai motorfietsryer wat sy dae moontlik sorgeloos met duur motors, ‘n praghuis en ryk sakevennote verwyl.
Na slegs minute in sy geselskap verander die prentjie dramaties en leer ken jy ‘n passievolle Christen en suksesvolle sakeman wat sy musiektalent en liefde vir sy Skepper uitleef deur sy voorbeeld en die vurige verkondiging van die Woord van God.
In 2006 het sy lewe handomkeer verander toe hy besef God leef en het hy ‘n daadwerklike besluit geneem om die Woord van God ten alle koste te verkondig. 
Hy het ‘n Bybelstudiegroep op die been gebring wat in sowat vier jaar van twee lede na meer as 70 lede gegroei het en Vrydagoggende douvoordag bymekaarkom rondom die Woord.
Gouws het vir lank in dobbelhuise, kroeë en met geleenthede gesing en sê hy wou nog altyd ‘n CD maak.  In Oktober 2011 het ‘n tragedie egter die familie getref. Hulle moes ‘n gesinslid se twee weke oue babadogter, Gemma Rose aan die dood afstaan. Gouws het ‘n liedjie vir die gesin ter vertroosting geskryf. “Dit is waar die inspirasie vir my CD ontstaan het. Ek het voor die klavier gesit en met God gewroeg oor die verlies wat baie swaar was om te verwerk toe die liedjie se woorde by my opgekom het,” vertel hy.
Gemma Rose is een van die twaalf liedjies op die CD, Vuur in my gees. Die een liedjie het op die ander gevolg en in minder as drie maande is 600 kopieë gedruk wat van die rakke gevlieg het.Verlede week is reeds 400 CD’s verkoop. 
Intussen sien hy uit na ‘n reuse kontrak met een van die land se grootste platemaatskappye.
Gouws en mnr Marnus Bergh het die meeste van die liedjies op die CD self geskryf, gekomponeer en getoonset. Gouws sê die woorde wat uit Bergh se pen vloei is ongelooflik. Omdat hulle mekaar goed ken en verstaan, is daar geen haakplekke nie. 
Asof dié sukses nie genoeg is nie, is hy en ‘n DSTV-produksiespan besig om aan die  Huisgesin vir Jesus-produksie vir die Kruiskyk-progam te werk wat eersdaags uitgesaai word.
Mnr Divan de la Guerre, Gouws se bestuurder sê die feit dat die CD 100% plaaslik vervaardig is, is ‘n riem onder die hart. 
“Ek is baie opgewonde om deel van dié projek te wees. Dewald is ‘n inspirasie vir almal om hom en spits hom daarop toe om vir God te werk en siele na Hom te lei,” sê De La Guerre.
Gouws en sy motorfietsvriende word telkens by kuierplekke in en om die stad raakgesien waar hy hom op uitgeworpenes en honger siele toespits. “Dit is waar ek die meeste siele vir God wen,” sluit hy af.
Gouws kan by divan@artistbookings.co.za of 083 660 8602 bespreek word vir optredes.