Debbie Mouton - stad se diamantvrou



Mariëtte Snyder
Me Debbie Mouton is ‘n dinamiese leier en vooraanstaande sakevrou vir wie net die beste goed genoeg is. Sy skryf haar sukses aan haar Hemelse Vader toe en is nederig genoeg om haar werknemers te prys vir die wonderlike werk wat in haar vyf winkels gedoen word.
Mouton het na skool haar graad in teologie aan ‘n Bybelskool in Berea, Pretoria verwerf en kort daarna na Polokwane verhuis.
Nadat sy haar ouers op ‘n jong ouderdom aan die dood afgestaan het, moes sy tegelyk by twee besighede werk om haar studieskuld te delg.
"Dit was in daardie jare moeilik om as vrou in ‘n manswêreld ‘n goeie pos te kry. Ek het die wêreld vol gebel sonder sukses. God het egter aan my gewys dat ek nie ‘n kansel nodig het om my medemens te bedien nie. Elke dag is daar iemand wat leiding nodig het en ek glo ek is op dié aarde geplaas om sulkes te help," vertel sy deernisvol. Mouton het in 1997 as juniorvennoot by Bosman Juweliers in Markstraat en Gold City Jewellers in Landdros Maréstraat aangesluit wat sy as haar grondslagfase sien.
"Ek is in die diep kant ingegooi en moes swem. Ek het my vingers stompies gewerk en het laataand tuis gekom. Die volgende oggend moes ek met ‘n glimlag kliënte ontvang. Die span waarmee ek gewerk het, was egter wonderlik en die ondersteuningsnetwerk het bygedra tot die twee winkels se sukses," vertel sy.
Haar alleeneienaarskap in 2002 na net vyf jaar is vir haar ‘n trotse mylpaal.
Toe sy in Oktober 2008 Lu Bag, ‘n winkel wat ‘n groot verskeidenheid leerprodukte, reistoebehore en ander mode-items verkoop, in Standard Bank Square geopen het, het baie gedink sy’s die kluts kwyt. Sy vertel sy het nog altyd ‘n liefde vir leer gehad en is mal oor die reuk. "Dit was een van die maklikste winkels om van die grond af te kry. Binne twee weke was die winkel vol voorraad en kon ek die deure open," vertel sy.
Vier maande later was Debbie Mouton Jewellers (DMJ) in Standard Bank Square se deure oop en kliënte het haar oorval.
"Omdat ek altyd na perfeksie streef, het ek DMJ so bestuur. My volgende uitdaging was DMJ en Lu Bag in Mall of the North," sê sy opgewonde.
Sy sê dit voel of sy nou ‘n toppunt bereik het. "Ons is in ‘n multimiljoenrand sentrum wat baie geleenthede vir
die provinsie geskep het," sê sy. Sy bestuur haar vyf winkels wat van vier werknemers na 20 gegroei het, met ‘n ysterhand. Haar werknemers praat met lof van haar wat sy elkeen soos familie hanteer.
"Ek kom nie meer so gereeld by al die winkels uit nie want DMJ in Mall of the North verg baie aandag, maar ek doen my bes om kwaliteittyd saam met almal te spandeer," vertel Mouton. Mouton was in 2006 president van die plaaslike sakekamer waar sy haar sterk besigheidsin met ander kon deel.
Haar inspirasie put sy uit die natuur en alles om haar. "Daar is ‘n boodskap in alles daar buite. Sodra jy vir ‘n oomblik kan stil word in jouself en inneem wat om jou aangaan, word die wêreld ‘n beter plek om in te leef en kan jy weer asem- haal," vertel sy.