Dawie Botes, ‘n waardige Sakepersoonlikheid van die Jaar 2009


Willie Esterhuysen - Mnr Dawie Botes, Polokwane Sakekamer se Sakepersoonlikheid van die Jaar 2009, is dié prestige titel deur en deur waardig. Dié nederige mede-eienaar van Polo­kwane se gesogte gastehuis- en konferensiekompleks, Bolivia Lodge, se sakesukses staan op drie pilare - passie, volharding en aanpasbaarheid. Oor ‘n periode van twaalf jaar, met geen ondervinding van die bedryf, was hy instrumenteel tot die opbou van Bolivia Lodge van ‘n kaal stuk grond tot ‘n fasiliteit wat vandag aan die hoogste internasionale standaarde voldoen. Tot 170 000 gaste word jaarliks in die veertien lokale (waarvan twee meer as ‘n 1 000 mense huisves) en 106 luukse kamers gelukkig gehou. Die prys wat hy daarvoor betaal, is ‘n daaglikse werkskedule van agtien uur. Maar Botes, wat ‘n BComm-graad in algemene bestuur agter sy naam skryf en talle Europese lande besoek het om agter die kap van die byl van besigheidskonsepte soos “kantore van die toekoms” en “papierlose kantore” te kom, sê sukses is te danke aan kennis van jou vakgebied en goeie perso­neelbestuur. “Bly op hoogte van die bedryf, maak betyds aanpassings, vra raad, wees ‘n voorbeeld in die werksplek, ontwikkel jou personeel en gee erkenning aan dit wat hulle toekom”, is sy nuttige raad aan mede-sakelui. Wyse woorde van ‘n professor gedurende sy studiejare aan Unisa wat hom bybly, is om rekening daarmee te hou dat ‘n besigheid ‘n gemeenskap nodig het om te oorleef en te floreer. Daarom het die besigheid ‘n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap deur voortdurend terug te ploeg deur investering en sosiale opheffing. “Versamel kennis van die gemeenskapbehoeftes en maak jou hart oop sover dit binne jou vermoë strek.” Gunsteling vakansieplek: Magoebas­kloof en die Hoedspruit-omgewing waar jy die water oor die rivierklippe hoor spoel, Mpumalanga met sy natuurskoon en so af en toe die see…veral die Kaap. Wat frustreer hom: Gesonde mense wat lui is om te werk en nie verantwoordelikheid wil aanvaar nie. Wat maak hom opgewonde: Wanneer my personeel presteer, hulself uitleef in hul werk en gaste ons oor en oor bedank vir ongelooflike kwaliteitdiens. Oor 2010: Die sokker moet nog realiseer, maar tans konsentreer ons op gereelde gaste en gee al ons aandag aan hulle. Oor Polokwane: Hou op kla, werk jou eie heil uit en bly weg van dit wat jou grief. Polokwane is ‘n aktiewe stad, gryp alles wat na jou kant toe kom. Oor die toekoms: Die wiel sal altyd rol. Klim op die wa en ry saam, anders gaan jy agter bly. In Botes se teenwoordigheid voel jy belangrik. Hy gee aan jou erkenning, ag jou belangriker as homself, is ‘n mens-mens, opreg, eerlik en reguit op die man af.