Willie Esterhuysen
Die tafel is gedek vir ‘n gure raadsvergadering wanneer Polokwane Munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdl Thabo Makunyane, om 14:00 vandag ‘n buitengewone eierdans sal moet uitvoer om sy raad te oorreed om die stad se nuwe begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die 2009 tot 2011 finansiële jaar goed te keur - dít te midde van die feit dat die raad oor geen omvattende en goedgekeurde eiendomswaardasierol, soos deur die wet vereis, beskik nie.
Polokwane se bestaande waardasierol verval op 1 Julie vanjaar. Ingevolge die nuwe wet op munisipale eiendomsreg moet ‘n nuwe waardasierol na ‘n proses van publieke deelname op dié datum in plek wees.
Dit is algemeen bekend dat ‘n waardasierol die basis vorm waarop begrotings geskoei word. In Polokwane wil onrustige belastingbetalers nou weet hoe dit vir die raad moontlik is om vir die toekoms te beplan en tariewe vas te stel voordat daar enigsins sprake van ‘n gesertifiseerde waardasierol is.Verskeie gebiede, waaronder die sentrale sakegebied - wat een van die hoofbronne van inkomste ingevolge die waardasierol behoort te wees - is steeds nie waardeer nie.
Terwyl die stad gons oor die bevoegdheid van die raad se nuwe waardeerder, mnr Jimmy Lungu van Linchi Property Consultants CC, word die verwikkelinge in die hooggeregshofsaak tussen Polokwane Munisipaliteit se waardeerder van weleer, mnr Eli Ströh, en die raad oor die aanstelling van die waardeerder ook afgewag. Teen druktyd gister was dit nie bekend of daar met litigasie voortgegaan word of, alternatiewelik, ‘n skikking tussen die partye bereik is nie.
Feit van die saak is egter dat die heffing van eiendomsbelasting direk verband hou met die vermoë van ‘n munisipaliteit om basiese infrastruktuurdienste (paaie, water, elektrisiteit, riolering, vullisverwydering, ens) tot bevrediging van die betalende gemeenskap te lewer – ‘n faset wat deesdae ‘n groot bron van frustrasie vir die Polokwane-gemeenskap is.
Landwyd is dit ‘n algemene tendens dat belastingbetalers hul wend tot die stigting van onafhanklike belastingbetalersverenigings in gevalle waar gemeenskapsleiers en amptenare, hetsy weens politieke agendas of uit blote onbevoegdheid en laksheid, met hul steeds krimpende beursies mors.
In gevalle waar belastingbetalersverenigings suksesvol tot stand gebring word, betaal belastingbetalers hul heffings in ‘n trustrekening en word die munisipaliteit bloot ‘n agent van die vereniging.


