
Danél Esterhuysen
Te midde van die donker wolk wat oor Limpopo se matriekuitslae hang, staan die Hoërskool Pietersburg-leerder, Charnette Steele soos ‘n ligbaken met altesaam nege onderskeidings uit.
Steele, waarskynlik die beste presteerder in Limpopo, skryf haar sukses aan harde werk, toewyding en die handhawing van ‘n gesonde balans in haar lewe, toe. "My motivering vir 12 jaar se harde werk was om God te dien met die talente wat Hy vir my gegee het.
"Ek was van kleins af baie kompeterend en streef daarna om my eie merk in die lewe te maak en vir iets onthou te word," sê sy. Steele het selfs haar eie verwagtinge oortref toe sy met nege onderskeidings beloon is.
Aan die begin van 2009 het sy nog gesê haar mikpunt is om haar skoolloopbaan met agt onderskeidings af te sluit.
Haar punte is as volg: Afrikaans 92%, Eng-els 85%, wiskunde 90%, lewensoriëntering 93%, besigheidstudies 87%, natuurwetenskap 82%, rekenaar-toepassingstegnologie 87%, rekeningkunde 97%, wiskunde, vraestel 3, 91%.
Sy skryf ook haar sukses aan die ondersteuning van haar ouers, Jimmy en Charlotte en toegewyde onderwysers by PHS toe.Steele het Maandag by die eerstejaarskamp van die Universiteit van Pretoria (Tuks) aangemeld waar sy vanjaar haar mediese studies begin. "Ek sien baie uit na die jaar, die nuwe uitdagings wat na my kant toe gaan kom en die koshuislewe in Curlitzia.
"Ek sal graag eendag in ‘n mediese rigting wil spesialiseer, maar sal nader aan die tyd my keuse maak," sê sy.
Sy sluit vanjaar aan by haar broer, Jacques wat tans B.Com Rekeningkunde by Tuks studeer. Sy koester die kosbare tyd saam met haar familie en vriende en sê dit is vir haar belangrik om nie net akademies te wees nie. "Ek wil altyd genoeg tyd hê om saam met my familie te spandeer en beplan om baie te reis as ek eers begin geld maak."


