Chantel terug in ma se sorg

Danél Esterhuysen
Chantel Mienie, die graad 11-leerder van die Hoërskool Pieterburg wat vir sowat ‘n week spoorloos verdwyn en verlede Woensdag by die Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereni-ging se krisissentrum vir hulp aangeklop het, is vir tyd en wyl onder die sorg van haar ma, me Annatjie Mienie, geplaas hangende ‘n ondersoek deur die polisie se kinderbeskermingseenheid.
Me Lorette Bosch, senior maatskaplike werker van die vereniging het gister bevestig dat Chantel verlede week by hulle opgeneem is sodat ‘n volledige ondersoek na die redes vir haar verdwyning gedoen kan word. "Haar ouers en die polisie is onmiddellik deur die betrokke maatskaplike werker meegedeel dat sy veilig is. Sy is die geleentheid gegun om met haar ouers, die polisie en personeel van PHS te gesels," het Bosch gesê.
Bosch het verder aangedui dat Chantel intussen met haar ouers versoen is, maar kapt Mohlaka Mashiane, die stad se polisiewoordvoerder, het gesê sy is in haar ma se sorg gelaat tot na afloop van ‘n volledige polisie-ondersoek. "Ons wag vir ‘n verslag van die maatskaplike werker en die kinderbeskermingseenheid wat sal bepaal waar Chantel sal bly. Alles word in haar belang gedoen en ons sal volgens haar beswil optree," het Mashiane gesê.
Me Annemarie Schoeman van PHS het bevestig dat Chantel nie terug by die skool is om haar eksamens af te lê nie.
Chantel het sowat twee weke gelede vermis geraak nadat haar ouers tevergeefs, na ‘n eksamenvraestel wat sy afgelê het, vir haar gewag het. Ondersoeke wil daarop dui dat Chantel uit haar eie die huis verlaat het.
Verdere besonderhede oor die motief agter haar verdwyning is vertroulik en word deur ‘n ondersoekspan hanteer.