Boogskietfoendi ook kunstenaar in eie reg


Mariëtte van de Werken
Simoné Venter is talentvol en ‘n veelsydige presteerder op sport- sowel as kunsgebied.
Haar belangstelling strek van ruiterkuns tot boogskiet terwyl sy akademies bogemiddeld presteer en oor uitsonderlike kunstalent beskik. Balans in haar lewe is vir haar ononderhandelbaar.
In 2008 het sy by Bushveld Extreme Archers aangesluit en daar hang reeds twee silwer medaljes teen haar muur wat sy in 2008 en 2009 tydens die SANIFAA Nasionale Boogskietkampioenskappe verower het.
Helgard en Ida Mostert, Springbok-boogskuts in Bela-Bela is haar inspirasie waarsonder sy nie die hoogtes kon behaal nie, sê sy.
Tien jaar gelede het sy ruiterkuns aangepak en is tans lid van New Dawn Riding Academy. In 2005 en 2006 het sy onderskeidelik twee vierde plekke by die nasionale kampioenskappe in ruitersprong verower. Van 2005 tot 2007 het sy jaarliks provinsiale kleure in ruiterkuns verwerf.
Boonop is sy ‘n kunstenaar van formaat. Sy neem kunsklasse by die beroemde Elsabé Grobler en haar passie is diere en natuurtonele. Sy het haar eie verwagtinge oortref toe sy die Modern Autohaus Ageless Reflection kunskompetisie in 2009 gewen en as Limpopo-finalis by die Shoprite Checkers Kunskompetisie aangewys is.
Met al haar bedrywighede skeep sy egter nie haar akademie af nie. Sy handhaaf ‘n hoë gemiddeld en sê sy leer hard om eendag ‘n suksesvolle natuurbewaarder te wees.
Sy sê: "My liefde vir die natuur en diere laat my geen ander keuse as om in ‘n natuurbewaringsrigting te studeer nie."
Dié introvert beskryf haarself as ‘n ‘bosmens’ wat glad nie lief is vir die stad se geraas nie. Sy luister graag na Afrikaanse musiek en haar mesversameling is haar trots.
Haar boodskap aan vandag se tieners: "Presteer waar jy kan. Werk hard en respekteer jou medemens en die natuur."