full screen background image
Ina van der Merwe en Martelize Brink.

Sprankelende persoonlikheid agter stem

679

Die immergewilde radio-omroeper van RSG, Martelize Brink het Saterdag tydens Wiele 500 se damesoggend luister aan die genotvolle dag verleen deur as seremoniemeester op te tree. Met haar diep, bekende stem, pittige opmerkings en sprankelende persoonlikheid het sy die ongeveer 360 dames geïnspireer.
Martelize het as tiener die gebruik van haar bene verloor en is sedertien van ‘n rolstoel afhanklik. Sy sê dat sy as jongste van vyf kinders onder haar gesinslede as ‘kwaaitjie’ bekend was, maar dat sy na die groot terugslag besluit het om die realiteit van haar situasie in die oë te kyk en die beste van haar lewe te maak.
Sy het na skool politieke wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en ook haar honneursgraad verwerf. Sy woon tans in Seepunt waar sy daagliks as omroeper van die gewilde RSG-program, Dis die een!, aanbied, maar tree ook gereeld as seremoniemeester en motiveringspreker op en doen ook kosde­mostrasies.
Haar oorlede pa, Matie Brink was bekend as die Potjiekoskoning en die res van haar familie is ewe kosmal. Sy werk ook op die oomblik aan haar eie kookboek, “Martelize Kook” wat in Oktober op die winkelrakke sal verskyn.
Haar raad aan iemand wat die gebruik van sy bene verloor het, is dat jy moet besef dat alles in jou lewe verander en dat jy self moet besluit of jy die nuwe uitdaging volstoom gaan aanpak en ‘n beter mens gaan word of emosioneel wil doodgaan.
“Goed gebeur met jou. Sien dit eerder as ‘n deur wat oopgaan. Nuwe uitdagings word aan jou gestel – gryp dit aan,” is haar optimistiese oplossing.
Só het sy ook verskeie uitdagings of ge­leent­hede aangepryp en onder meer Namibië be­soek om die duine aan te pak en met ‘n kajak saam met n vriend van Kaapstad na Robbeneiland geroei en selfs die gorillas in Rwanda se woude gaan besigtig.
Vir Martelize is daar net een pad en dit is vorentoe. “As jy in ‘n posisie kom waar jy iemand kan help, doen dit. Jy mag ook soms hartseer voel oor jou situasie, huil dan lekker, maar staan weer daar op en kyk vorentoe, want daar is altyd iemand wat swaarder kry as jy.

Foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Volg die links onder vir meer Wiel 500 nuus en foto’s:
Wiele 500 bladsy 1
Wiele 500 bladsy 2