full screen background image

Sogenaamde kaptein weer onder arres

278

‘n Man wat hom vir langer as twee jaar glo as ‘n polisiekaptein voorgedoen het, is ‘n voortvlugtige verkragter wat uit Pretoria Sentraal Polisiestasie ontsnap het.
Die man wat as polisiekaptein Alex Mailula bekend was se regte naam is Alex Matsobane Maake. Hy is in Februarie in Polokwane gearresteer is omdat hy homself as polisielid voorgedoen het.
Twee dae na sy inhegtenisneming het hy vanuit die Polokwane Polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap.
Hy is verlede Donderdag in Pretoria na ‘n maande lange soektog deur die Valke in hegtenis geneem. Valke-woordvoerder, Hangwani Mulaudzi sê Maake is in die voet geskiet nadat hy van lede van die Valke wou vlug.
“Maake is steeds onder polisiebewaking in ‘n hospitaal in Pretoria. Hofverrigtinge het verlede Vrydag in Pretoria in sy afwesigheid voortgegaan en die saak is tot volgende maand uitgestel. Ons wag vir ‘n doktersverslag om te bevestig wanneer Maake gesond genoeg sal wees om na Polokwane vervoer te word om daar in die landdroshof te verskyn,” sê Mulaudzi.
Maake is in 2012 skuldig bevind op ‘n aanklag van verkragting in Boschkop en is in die Pretoria Sentraal Polisiestasie se aanhoudingselle voor sy vonnisoplegging aangehou. Vandaar het hy na bewering ontsnap en kort daarna sy opwagting by Polokwane Polisiestasie gemaak en aangemeld as ‘kaptein Mailula van hoofkantoor’.
Hy het glo volle toegang tot alle betroubare inligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gehad, met ‘n gemerkte polisievoertuig gery, ‘n dienspistool gehad en gesaghebbend opdragte aan polisielede gegee.
Sy kollegas het glo vermoed dat hy nie ‘n volwaardige polisiebeampte is nie omdat hulle agtergekom het hy sukkel om dossiere te open nadat hy arrestasies gemaak het.
Mulaudzi sê volgens prosedure moes daar die nodige dokumentasie wees om te bevestig dat Maake by die Polokwane polisie aangesluit het.
“‘n Verifikasieproses moes plaasvind, maar ons vermoed daar was geen dokumentasie in plek nie en dat dit algemeen aanvaar is dat Maake die waarheid gepraat het. Hoe hy op die polisie se stelsel beland het en ‘n salaris verdien het, is ook onduidelik. Alle onduidelikhede vorm deel van die ondersoek.”
Benewens die klagte van ontsnapping uit aanhouding in 2012 en identiteitsbedrog wat Maake in die gesig staar, sal hy ook pa moet staan vir sy dade nadat hy in 2009 glo op borgtog in Johannesburg vrygelaat is hangende ‘n vonnis na ‘n verkragtingsaak waaraan hy skuldig bevind is. Hy het toe ook gevlug voordat hy gevonnis kon word, sê Mulaudzi.
Die Valke se waarnemende hoof, Berning Ntlemeza het die ondersoekspan vir hul goeie werk bedank.
“Die saak is ver van afgehandel en ons sal alles in ons vermoë doen om te bepaal hoe Maake daarin geslaag het om toegang tot die sisteem te kry. Ek sal persoonlik seker maak dat antwoorde op alle vrae gevind word,” het Ntlemeza in ‘n persverklaring gesê.