full screen background image
Lid van die reëlingskomitee van die Mighty Men in the Bushveld-konferensie, Francois Brits, by ‘n vorige byeenkoms.

Snymansdrift in gereedheid vir Mighty Men Konferensie

743

Reëlings vir vanjaar se Mighty Men in the Bushveld-konferensie verloop seepglad en duisende gelowiges word by dié besondere geleentheid verwag.
“Die konferensie vind van 27 tot 29 April buite die stad plaas en is gratis. Kampeerders is welkom om reeds Donderdagmiddag op die Snymansdriftplaas op te daag en hul kampeerplekke vir die naweek gereed te kry. Lopende water en stortgeriewe is beskikbaar vir die wat vir ‘n koue stort in die buitelug kans sien. Elektrisiteit word nie voorsien nie, maar besoekers is welkom om hul eie kragopwekkers en gastoerusting saam te bring,” sê Brits.
Volgens Brits sal ‘n wye verskeidenheid eet- en drinkgoed te koop wees en besoekers kan gesellig om hul eie braaivleisvure kuier. Aandenkings en klere sal soos gebruiklik by die winkel beskikbaar wees.
Vroue is welkom om Sondag­oggend om 09:00 vir die diens aan te sluit wat deur Angus Buchan gelei word.
Danie Oosthuizen is Vrydagaand om 18:00 die spreker en Africa Mhlophe tree Saterdag om 08:30 op. Sang en lofprysing word Saterdagaand om 18:00 deur Joe Niemand en Rick van Wyk aangebied.
Verdere inligting kan op die MMC in the Bushveld webtuiste gekry word of Brits kan by 082 460 2540 geskakel word.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com