full screen background image

Slaggate gemerk om te waarsku

660

Inwoners van die stad wat besorg is oor die skade wat diep slaggate in strate aan voertuie kan veroorsaak, merk steeds die gate met boomtakke en plastiekstroke ondanks vorige waarskuwings van die Polokwane Munisipaliteit dat dit tot vervolging kan lei.
“Die munisipaliteit is traag om die gate te herstel en ons vestig op dié manier ook hul aandag op die probleem,” het ‘n inwoner wat anoniem wil bly, aan Polokwane Observer gesê.
Die munisipaliteit se waarnemende kommunikasie en bemarkingsbestuurder, Matshidiso Mothapo sê dat die munisipaliteit merkbare vordering met die herstel van slaggate maak. “Daar is verskeie spanne ontplooi. Weens die uitgestrektheid van die munisipale gebied, mag dit voorkom asof ons nie aan die gate aandag gee nie,” sê Mothapo. Mothapo raai die publiek af om bome in slaggate te plant omdat die maak van verdere gate op vandalisme van munisipale eiendom neerkom en strafbaar is. Hy sê inwoners moet eerder die slaggate by die munisipaliteit aanmeld.
‘n Regsgeleerde van die stad het bevestig dat daar ‘n regsplig op die plaaslike owerheid rus om munisipale infrastruktuur in stand te hou en skade aan inwoners se eiendom te beperk. “’n Eis om skadevergoeding wat uit skade of enige ander gevolg wat deur ‘n slaggat veroorsaak mag word, sal waarskynlik slaag,” sê hy.
Die Ekurhuleni Metropolitaanse Raad moes onlangs ‘n bedrag van R951 313 na ‘n skikking aan ‘n motoris betaal wat beserings opgedoen het nadat hy deur ‘n slaggat gery en teen ‘n muur gebots het.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Hooffoto: Die slaggat in Steynstraat in Eduanpark is deur ‘n inwoner gemerk om motoriste te waarsku. (Foto: Verskaf)