full screen background image

Skreiende ses moorde in ses dae in die provinsie

794

Ses mense is koeëlbloedig in ses dae in Limpopo vermoor met die nuutste voorval Dinsdag in Eduanpark waar die 45-jarige Tanya Wiers grusaam om die lewe gebring is.
Die polisie het ’n 25-jarige verdagte in verband met die moord in hegtenis geneem. Sien storie elders.
Mookgophong
Die lyk van Pats Truter (79) is laat Vrydagmiddag in haar motorhuis in Gholfpark, Mookgo­phong deur haar buurman, gevind. Truter is Donderdag omstreeks 10:00 vir die laaste keer gesien.
“Die oorledene se bure het bekommerd geraak en ondersoek ingestel waarna haar lyk in die motorhuis gevind is. Haar gesig is met handdoeke en die res van haar liggaam met ‘n mat toegegooi. ‘n Voorlopige ondersoek toon dat sy vermoedelik verwurg is,” sê provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo.
Hy sê daar was geen tekens van ge­dwonge toegang tot die huis nie en die motief vir die moord is onbekend. ‘n Verdagte is glo Dinsdag in verband met die moord aangekeer, maar Mojapelo kon die nie bevestig nie.
Leeupoort
Vrydag omstreeks 03:00 is die 62-jarige Daniel Killian-Jacobs tydens ‘n inbraak op Leeupoort, tussen Bela-Bela en Thabazimbi, in die bors geskiet. Mojapelo sê Killian-Jacobs se vrou, Emmerentia het omstreeks 03:00 gaan water drink toe sy drie verdagtes buite die huis opgemerk het. Sy het glo kamer toe gehardloop om haar man wakker te maak voordat sy haarself in die badkamer toegesluit en die bure geskakel het.
“Die verdagtes het toegang tot die huis gekry deur ‘n vensterglas met ‘n baksteen stukkend te slaan. Met die bure se aankoms is Killian-Jacobs se lyk in die kamer gevind. Hulle het slegs met Emmerentia se handsak op die vlug geslaan.” Nog geen arrestasies is gemaak nie.
Tzaneen
Later dieselfde dag is die hoof van Banareng Primary School, Hendrick Shai (46) by die Lenyenye Landdroshof, buite Tzaneen met ‘n mes doodge­steek. “Shai het op ‘n aanklag van aanranding wat in September verlede jaar aanhang­ig gemaak is, verskyn. Die hof het toestemming gegee dat hy sy prokureur wat nie vir die verrigtinge opgedaag het nie, kan skakel. Buite die hof is hy met ‘n mes gesteek en het ‘n ent geloop voordat hy inmekaar gesak en gesterf het,” sê Mojapelo. ‘n Verdagte is intussen aangekeer en sou na verwagting Maandag in dieselfde hof op ‘n aanklag van moord verskyn het, maar dit is nie deur Mojapelo bevestig nie.
Louis Trichardt
Saterdag is ‘n taxibestuurder op die N1 net buite Louis Trichardt koelbloedig deur twee passasiers doodgeskiet. “Die twee het by Beitbrug glo in die taxi op pad na Polo­kwa­ne geklim en agter die bestuurder gaan sit en hom by Fort Edward gevra het om te stop. Toe die bestuurder weier is hy van agter in die kop geskiet,” sê Mojapelo. Lede van die plaaswag, polisie se honde-eenheid en die lugvleuel kon nie die verdagtes wat die veld ingehardloop het, opspoor nie. Mojapelo kon nie die naam van die bestuurder verskaf nie.
Lephalale
Drie verdagtes is Dinsdagaand in verband met die moord op Hendrik Pietersen (57) op sy plaas, Fourieskloof buite Lephalale aangekeer met Pietersen se vuurwapen glo in hulle besit. “’n Onbekende aantal verdagtes het Maandag­oggend toegang tot sy huis gekry en hom met ‘n swaar voorwerp op die kop geslaan waarna hulle het met verskeie items insluitend die kluis en Pietersen se wit Isuzu-bakkie op die vlug geslaan het,” sê Mojapelo. Sy skoonseun het glo vroegoggend op hom afgekom en met hom hospitaal toe gejaag, maar hy is onderweg oorlede.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die lyk van ‘n skoolhoof is toegegooi nadat hy by die Lenyenye Landdroshof met ‘n mes dood­gesteek is.

Die verdag­te wat in verband met die moord op ‘n skoolhoof in hegtenis geneem is.

‘n Taxibestuurder is buite Louis Trichardt koelbloedig doodgeskiet.