full screen background image
Mej en Mnr PHS, Inge Brits en Dirkie van der Merwe, met eerste en tweede prinse en prinsesse, Lisbé du Preez, Mari Geerkens, Jean-Pierre Viljoen en Kailan Ferreira. (Foto's: verskaf)

Skoonhede, ondiere beïndruk in PHS-sprokie

475

Skoonhede en ondiere getooi in treffende gewade en maskers het verlede Donder­dagaand met vernuftige danspassies op heupswaaimusiek en skerp kwinkslae hul gehoor weggevoer met die nabootsing van ‘n bekende sprokie, wat die tema vir vanjaar se Mnr en Mej PHS-kompetisie gekenmerk het.
Graad 11-leerders, Inge Brits en Dirkie van der Merwe, het met die krone en nog ‘n handvol gesogte titels weggestap.
Hoërskool Pietersburg (PHS) se skoolsaal het as agtergrond tot ‘n weergawe van ‘Beauty and the Beast’ gedien en 12 finaliste – waarvan een in matriek en die res in graad 11 is – hul beste voetjie voorgesit om beoordelaars en ondersteuners met hul talente te beïndruk. Daar is van hulle verwag om, onder meer, eie inisiatief aan die dag te lê en in informele en formele uitrustings ‘n draai op die loopplank te maak.
Mari Geerkens en Lisbé du Preez is as eerste en tweede prinsesse en Jean-Pierre Viljoen en Kailan Ferreira as eerste en tweede prinse aangewys.
Inge en GW Badenhorst het die titels van Mej en Mnr Fotogenies 2017 ingepalm.
Dirkie en Lisbé is ook vir hul inisiatief uitgesonder na hul onderskeie weergawes van ‘n eenmankomedie en die humoristiese aanbieding van ‘n nuusbulletin. Sy is saam met Louis Nel as Mej en Mnr Persoonlikheid gekies.
Die plekke vir die finaliste met die meeste aanhangers, soos gemeet aan die meeste stemme vir die publiek se gunstelinge, is deur Inge en Kailan opgeeïs.
Die produksie is aanvanklik met die uitvoering van ‘Be Our Guest’ uit die blyspel begin en verteenwoordigers van die seniorleerderraad het gaste in kenmerkende goue en blou uitrustings, uniek aan die sprokie, op danspassies trakteer.
En só het die storie van die skoonheid, Belle wat deur ‘n ondier in ‘n kasteel aangehou word, vlugtig vir een aand ‘n afskopplek op ‘n verhoog in Polokwane gekry. Na alles het dit slegs oor die innerlike gegaan…

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Mnr Persoonlikheid, Louis Nel, voer vlugvoetige danspassies uit.

‘n Toneel uit GW Badenhorst se uitvoering waarmee hy sy kreatiwiteit ten toon moes stel.

Hoofseun en hoofmeisie André Viljoen en Timoné Wagner in ‘n toneel uit PHS se weergawe van Beauty and the Beast.