full screen background image

Skool se personeel besoek graad 1-kankerlyer in hospitaal

1808

Masilo Mapeko en sy medepasiënte het verlede Donderdag ‘n yslike verrassing gekry toe Masilo se skoolhoof en onderwysers al die pad van Mogwadi gery het om vir hom te kom kuier.
Die groep van Dendron Primary School, waar die knapie in graad 1 is, het ook sagte speelgoed vir die ander jong kankerlyers in die Tough Living with Cancer (TLC)-saal van die Polokwane Provinsiale Hospitaal saamgebring om te vertroetel en waaruit hul troos kan put.
Masilo is in Mei met kanker gediagnoseer en moet sedertdien dikwels by die hospitaal oorbly om die nodige behandeling te ontvang.
Skoolhoof, Elize Smuts het vertel dat sy onlangs by die TLC-saal ingeloer het om by haar jong leerder te kuier.
“Tydens my besoek het die jong vegters my aandag getrek. Ek het besef hoe moeilik dit vir hulle moet wees om dag en nag in die hospitaal te bly en wou iets spesiaal vir hulle doen. Met ‘n paar oproepe en ‘n bietjie beplanning het ons gou geld ingesamel om vir elkeen ‘n geskenkie te koop.”
Die onderwysers het erken dat die besoek ‘n bittersoet ervaring was. “Dit was lekker om iets positief by te dra, maar dit is hartseer om te sien hoe swaar hulle kry.”
Smuts het gesê dit was ‘n plesier om die glimlaggende gesiggies te kon sien en om weer tyd saam met Masilo en sy nuwe maats deur te bring.
Kansa Limpopo se TLC-fasiliteerder, Bobby Were sê dit is wonderlik om te sien hoe die skool na dié hospitaalsaal uitgereik het en dat hy en die ander personeel opreg dankbaar vir die skenking is.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Dineo Mamayo is baie ingenome met haar geskenk.

Dineo Mamayo is baie ingenome met haar geskenk.

Die skoolhoof van Dendron Primary School, Elize Smuts deel ‘n spesiale oomblik met Piet Kgari.

Die skoolhoof van Dendron Primary School, Elize Smuts deel ‘n spesiale oomblik met Piet Kgari.

Mpho Hlongwana met die sagte speelding wat sy ontvang het.

Mpho Hlongwana met die sagte speelding wat sy ontvang het.