full screen background image

Ses jeugdiges sterf tragies in 12 dae

729

Die winterskoolvakansie het vir verskeie families op ‘n hartseer noot begin nadat minstens vyf leerders binne 12 dae gesterf het.
In die jongste voorval is die 17-jarige John Kuhne van Hoërskool Louis Trichardt Dinsdagoggend dood na ‘n fratsongeluk op ‘n plaas in Levubu die vorige dag.
“John het glo saam met ‘n vriend agter op ‘n vierwielmotorfiets gery terwyl nog vriende met ‘n bakkie agter hulle aangery het. John het volgens inligting van die kwad-fiets afgeval toe die rytuig oor ‘n hobbel in die pad gery het en hy daarna onder die bakkie beland het,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Verlede Donderdag is ‘n 12-jarige kind dood nadat ‘n sandwal in die Mmotwaneng nedersetting in Ga-Mphahlele net buite Lebowa-kgomo op hom ingetuimel het terwyl hy en sy maats gespeel het. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
Saterdagoggend is ’n 19-jarige leerder van Millennium College in Madiba Park, Seshego by die Polokwane Voëlpark met ’n skerp voorwerp doodgesteek.
Volgens Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane het ’n groep leerders die begin van die skoolvakansie by die voëlpark gevier toe ’n argument tussen die slagoffer en ’n ander persoon uitgebreek het en hy herhaaldelik gesteek is. Niemand is tot dusver in verband met die voorval gearresteer nie.
‘n Oudleerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Neville de Beer (19) is volgens inligting Saterdag oorlede nadat hy ongeveer ’n maand gelede in ’n botsing betrokke was. Hy word môre (Vrydag) vanuit die Goeie Nuus Aanbiddingsentrum op die Louis Trichardtpad begrawe.
Intussen is die graad 10-Tommie, Stiaan van der Walt (17) en sy sesjarige broer, Coetzee Vrydag op hul familieplaas net buite Musina begrawe nadat hulle in ’n ongeluk gesterf het.
Hulle was saam met hul pa, Kobus onderweg na Musina toe Kobus vir ‘n stilstaande voertuig op ’n blinde hoogte uitgeswaai, beheer oor die bakkie verloor en die voertuig omgeslaan het.
Stiaan is op slag dood en Coetzee het onderweg na ‘n hospitaal in Polokwane aan sy bese-rings beswyk. Dian Basson, ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) sterk intussen goed aan in Mediclinic Limpopo nadat hy vir etlike dae in die intensiewesorgeenheid was.
Hy is ernstig beseer nadat hy glo vir iets op die Modjadjiskloofpad uitgeswaai en beheer oor sy bakkie verloor het.