full screen background image

Sambokbende – vier vas vir geweld, moord

449

Vier verdagtes wat lede van die Amasjambok-bende wat waarskynlik onder valse voorwendsels misdaad en dwelmverwante misdrywe in en om die stad beveg, het vir ‘n tweede keer hul rieme met die gereg styfgeloop.
Hulle staar nou klagte van onder meer moord, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig nadat hulle Vrydag in hegtenis geneem is.
‘n Groep taxibestuurders het dieselfde dag ook byna hul moses teëgekom nadat hulle na die Polokwane polisiestasie opgeruk en die polisie aangeraai het om hulle ook te arresteer.
Die groep wat waarskynlik nou saam met taxibestuurders werk om sogenaamd misdaad te bekamp, het verlede jaar ook met die gereg gebots en blykbaar lig daarvan afgekom, maar nou is die polisie ernstig om hulle voor stok te kry.
Phakiso Ramantswane, Oscar Chiene, Phineas Mabetlela en Lund Machete is in aanhouding totdat hulle weer in die Polokwane landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
Volgens die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, is daar die afgelope tyd veral in Seshego en Polokwane verskeie klagte oor Amasjambok ontvang wat hul slagoffers van onder meer dwelmsmokkelary beskuldig en dan ontvoer, aanrand en van hul besittings beroof. In van die gevalle is van die slagoffers dood weens beserings wat hulle tydens ‘n aanval of ontvoering opgedoen het, volgens Mojapelo.
Hy sê in Oktober verlede jaar is daar ‘n vergadering met die bende sowel as die po­lisie en verteenwoordigers van die Polokwane Munisipaliteit gehou en hulle is gewaarsku om met hul optrede te stop. Die sambokke is gekonfiskeer.
Die waarskuwing dat die polisie nie hul gedrag meer gaan duld nie het waarskynlik op dowe ore geval en hulle het hul bedrieglike planne om misdaad te bekamp, voortgesit.
“Ons het onlangs ‘n intense ondersoek uitgevoer om die skuldiges aan te keer en ‘n deurbraak is Vrydag tydens die arrestasie van die vier verdagtes gemaak. Machete, wat in Seshego gearresteer is, word reeds met voorvalle van moord, roof, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer, verbind,” sê Mojapelo.
Mojapelo sê ‘n groep taxibestuurders het Vrydag voor die Polokwane polisiestasie byeengekom om teen die arrestasie van die vier verdagtes te protesteer en het die polisie aangeraai om hulle ook te arresteer. “Die polisie was vasbeslote om hul wense uit te voer, maar hulle het skielik uitmekaar gespat sonder enige gewelddadige voorvalle.”
Hy het ‘n beroep op mense gedoen wat voorheen slagoffers van die bende was om by die naaste polisiestasie aan te meld.
Provinsiale polisiekommissaris Nneke Ledwaba het gesê geen soortgelyke optrede van enige persoon wat die gereg in eie hande neem sal geduld word nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com