full screen background image

Sakekern verval wyl Munisipaliteit sloer

512
Haarkappers op sypaadjies kan op byna op elke hoek gesien word.

Haarkappers op sypaadjies kan op byna op elke hoek gesien word.

Die Polokwane Munisipaliteit se sloerende pogings om onwettige aktiwiteite in die stad se sakekern hok te slaan, kan moontlik die rede wees dat eens-florerende besighede se deure gesluit moet word.
Onwettige smouse, leeglêers en huurmotors wat onwettig bedryf word, neem geld spreekwoordelik uit vele sakelui se hande.
Polokwane Observer het die strate in die middestad saam met ‘n bron verken om probleme te identifiseer wat die sakekern al hoe onaan­trekliker maak.
“Onwettige smouse neem sypaadjies oor. Sommige het permitte, maar dit is jare laas hernu wat eintlik beteken dat hulle onwettig smous. Om elke hoek en draai word hare op sypaadjies gedoen.”
“Dit word nie toegelaat nie omdat dit so goed as smous is, want mense moet vir die diens betaal,” sê die bron.
Huurmotors is een van die grootste kopsere. Volgens die bron is sulke motors nie geregistreer nie en word sonder permite bedryf, dog staan hulle byna alle parkeerplekke in Kerkstraat vol. “My kliënte skakel my om te sê hulle kry nie parkering nie en dat hul eerder elders geholpe sal raak. Ek verloor duisende rand omdat ek nie meer voete in my winkel kry nie as gevolg van die taxi’s wat oral geparkeer staan,” sê ’n sakeman wat verkies om anoniem te bly.
Hy het aan Polokwane Observer gewys hoeveel keer hy die munisipaliteit se gemeenskap-veiligheidafdeling gekontak het en selfs vir een van die direkteure SMS-boodskappe gestuur het.
Die direkteur het volgens hom belowe om verkeersbeamptes uit te stuur om die taxi’s te verwyder, maar ’n uur en ’n half later was steeds geen aksie geneem nie.
Die bron vermoed dat verkeersbeamptes omgekoop word om anderpad te kyk.
“Die sakekern se probleme lê by die munisipaliteit. Daar is geen beheer nie, maar beamp-tes ontvang goeie salarisse vir werk wat hulle veronderstel is om te doen. ‘n Bewys dat daar geen beheer is nie, is dat smouse reeds in Landdros Maréstraat handel dryf. Dié straat is ‘n geen-smous gebied,” sê die bron.
Smouse in dié hoofstraat het vinnig laat spaander toe hulle besef hulle word gefotografeer.
Daar is ook bewerings dat munisipalie brandbestryders glo soggens by die werk opdaag, net om later weer huistoe te gaan.
“Daar is ook geen beheer daar nie. Daar is nie eers dag-tot-dag doelstellings soos om voorbrande te gaan maak nie. Hulle sit letterlik en wag vir iets om te gebeur. Die stad is besig om te verval omdat die munisipale bestuur terugsit en kyk na die chaos, maar geen beheer neem nie,” sê die bron.
Polokwane Munisipaliteit se woordvoerder, Malesela Maubane het gesê die munisipaliteit poog daagliks om die minitaxis sowel as ander verkeersoortreders te beheer. “Ons doen ook alles in ons vermoë om smouse veral in Landdros Maréstraat en ook haarkappers wat die munisipaliteit se bywette oortree te vervolg. Ons bly gefokus en toegewyd om probleme by die brandweer en ander dienste te verbeter,” sê Maubane.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com