full screen background image
Wouter de Villiers van Noordelikes se eerstespan tydens verlede jaar se Boet Fickliga-finaal.

Rugbyspanne skud vere vir Boet Fickliga reg

182

Rugbyliefhebbers kan solank die biltong ophang om byderhand te wees wanneer die jaarlikse Boet Fickliga volgende naweek begin.
Dié gesogte toernooi ontlok jaarliks groot belangstelling onder klubrugbyliefhebbers.
Verlede jaar het al drie Goldwagen Noordelikes se spanne vir die derde agtereenvolgende jaar tot die finale ronde deurgedring. Noordelikes se derdespan het as wenners uit die stryd getree terwyl die eerste- en tweedespan as naaswenners gekroon is.
“Die spanne het hard geoefen en ons sien uit na die komende toernooi omdat mededingende spanne ook lang oefenure ingesit het en goed voorberei is,” sê Noordelikes-voorsitter, Shaun van der Merwe.
Die toernooi word in die reserwe- en seniorliga verdeel. Klubs wat aan die seniorliga deelneem sluit Goldwagen Noordelikes, Northam-, Potgietersrus-, Letaba-, Louis Trichardt- en Pietersburg/Dendron Rugbyklub in.
Die reserweliga bestaan uit Pietersburg/Dorp-, Phalaborwa-, Mankweng- en Seshego Rugby­klub sowel as Universiteit van Limpopo (UL) en Universiteit van Venda (Univen).
Die eerste wedstryde vir Pietersburg/Dendron is volgende Saterdag teen UL op die klub se tuisveld terwyl Noordelikes op 8 April hul eerste wedstryd teen Letaba op hul opponente se velde speel.

Storie en foto:RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com