full screen background image
Hoofafrigter van die BIZHUB Lions krieketspan, Geoff Toyana en Sibongile Ramusi oorhandig die Limpopo Impalas Bouler van die Jaar-toekenning aan Ruann Willemse (middel).

Ruann met krieketbal in die hand gebore

477

Sy passie en liefde vir krieket het Saterdag vir Ruann Willemse ‘n toptoekenning in die sak besorg nadat hy tydens Limpopo Impala Cricket se jaarlikse prysuitdeling as Bouler van die Jaar aangewys is.
Die spoggeleentheid is by die nuwe Peter Mokaba Stadion aangebied, waar verskeie provinsiale atlete vir hul harde werk en prestasies gedurende die afgelope seisoen vereer is. Willemse is as die speler met die beste boulsyfer vir die 2016/17 seisoen geïdentifiseer wat hom die ideale kandidaat vir die toekenning gemaak het.
Sy liefde vir krieket het vroeg begin toe hy as kleuter vir die eerste keer met ‘n krieketbal en kolf kennis gemaak het. As jong seun het Willemse die middae na skool saam met sy pa, Danie, adjunkhoof van Laerskool Witri­vier, langs die krieketveld deurgebring en in 2003 vir die eerste keer as lid van die o.10-span van Laerskool Piet Hugo op die veld gedraf.
Willemse is in 1993 in Polo­kwane gebore en het op 11-jarige ouderdom saam met sy gesin na Witrivier, waar hy by Laerskool Witrivier op skool was, verhuis. Sy hoërskoolloopbaan het hy by Hoërskool Rob Ferreira voltooi, waarna hy vir twee jaar by Piet Hugo as studente-onderwyser gewerk het.
Hy het daarna ‘n pos as studente-onderwyser by Hoërskool Pietersburg (PHS) aanvaar en later in Engeland gaan werk waar hy vir ‘n jaar vir Sawbridgeworth Cricket Club gespeel het. Na ‘n jaar in Engeland het Willemse na Suid-Afrika teruggekeer en hy werk tans by Hoërskool Ben Vorster as voltydse krieketafrigter.
Die onvoorspelbaarheid van die spel en die moontlikheid dat ‘n wedstryd op enige oomblik kan verander is wat hom lief maak vir krieket, volgens die 24-jarige Willemse.
Sy rolmodel in dié sport is sonder twyfel sy pa. “Hy het soveel tyd en moeite aan my kriekerloopbaan spandeer. As dit nie vir hom was nie sou ek nooit enige hoogtes in dié sport bereik het nie,” verduidelik Willemse.
Buiten krieket, tree Willemse as rugby­skeids­regter vir die Limpopo Blou Bulle Skeidsregters­unie op en is hy ook ‘n kranige gholfspeler wat volgens hom baie van sy vrye tyd gebruik om sy voorgee te verbeter.
Die toekenning wat hy ontvang het, was vir hom ‘n bewys dat harde werk en uithouvermoë wel beloon word. Hy verduidelik verder dat ‘n goeie krieketspeler altyd nederig moet wees en dat die speler moet onthou die spel skuld hom niks nie. “Daar is ‘n gesegde wat sê jy is net so goed soos jou laaste wedstryd en dit hou my altyd op my tone. ‘n Goeie speler moet ook altyd goeie sportmangees op die veld toon en sy opponent asook die spel respekteer,” sê hy.
Willemse rig van o.6- tot o.15-spelers by Vossies af. Sy doelwit is om vir die Suid-Afrikaanse krieketspan gekies te word aangesien hy sedert laerskool op provinsiale vlak krieket speel. Volgens Willemse wil hy ‘n verskil in krieket in die provinsie maak en veral met afrigting sy talente gebruik om jong spelers te help om hul spel te ontwikkel.

Storie en foto: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za