full screen background image
Rouxvé Becker en Zorro is tydens hul eerste kompeterende uithourit saam as Beste van die Beste aangewys.

Rouxvé, Zorro gedugte span na een maand

238

Die lid van die plaaslike Capricorn Uithouritklub het onlangs die Letaba Uithourit oor 81 km, wat op Munnik buite die stad plaasgevind het, op Zorro se rug aangedurf en die liggewigafdeling in ‘n tyd van 04:29.54 gewen.
Zorro is as bes gekondisioneerde perd aange­wys en saam het hul die Beste van die Beste-toe­kenning verower.
“Die trots borrel oor in my oor dié toekenning wat nie vrylik uitgedeel word nie. Veeartse en beoordelaars het streng kriteria vir die besondere eerbewys. As mens die kort tydjie wat ek en Zorro saamry in ag neem, is dit ‘n groot prestasie en eer. Ek en Zorro verstaan mekaar,” sê Rouxvé wat al drie jaar met geleende perde aan uithouritte deelneem, maar daarom nie kompeterend kon wees nie.
Tussen 52 ander ruiters het Zorro ten spyte van ‘n moeilike terrein met water, klippe en slote uitgestyg. Perde waarmee sy vorige uithouritte gery het, het slegs ‘n gemiddelde spoed van
16 km/h gehandhaaf, maar Zorro kon 22 km/h haal wat goed genoeg was om stof in ander rui­ters se oë te skop.
Tydens ‘n uithourit is sy en Zorro lang rukke alleen wat die besondere band net sal verstewig. “Ek praat deurentyd met hom om hom te kalmeer omdat daar wilde diere op die roetes is. My grootste vrees is dat hy kan skrik, my afgooi en weghardloop.”
Volgens haar is ‘n goeie ruiter iemand wat net so hard soos die perd oefen, ten alle tye gefokus bly en ‘n sterk verhouding met die perd het. “Dit is baie belangrik dat jy jou perd verstaan en weet waartoe hy in staat is sodat jy beheer oor hom behou,” sê Rouxvé.
Vir haar is die versorging van Zorro, sy fiksheid en regte dieet uiters belangrik. Hy oefen daagliks vir minstens twee ure en sy neem hom weekliks vir ‘n uithourit van sowat 80 km. Hy word ook gereeld geborsel sodat hy blinkglad is en Rouxvé maak seker dat hy nie bosluise het wat siektes kan veroorsaak nie.
“Ek het voorheen aan skouspringkompetisies en perdegimnastiek deelgeneem, maar uithouritte was nog altyd my voorkeur omdat ek meer tyd saam met my perd kan spandeer.
“Ek het ook ‘n groot liefde vir die natuur wat definitief tot my liefde vir uithouritte bydra,” sê Rouxvé en voeg by dat afval deel van die sport is, maar dat opstaan, afstof en weer probeer die roete tot sukses is.
Die graad 12-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) het reeds begin oefen vir die volgende uithourit wat op 27 Mei by Sondela buite Bela-Bela gehou word.
“Ek en Zorro gaan nog ‘n lang pad stap en hopelik my droom om met hom vir Springbokkleure te kwalifiseer, vervul.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com