full screen background image
Ria van Vliet.

Ria van Vliet se heengaan deur vele betreur

890

‘n Bekende in liefdadigheidskringe in die stad, Ria van Vliet (69) is Sondag oorlede nadat sy die vorige Sondag uit die hospitaal ontslaan is waar sy vir infeksie in haar been behandel is.
Volgens haar man, Arij, was sy sedert 1994 ‘n inwoner van die stad waar sy as versekeringsmakelaar werksaam was. Die egpaar is in 1998 getroud en het tot 2008 hul eie besigheid, Eureka Makelaars, bedryf. Ria was meer as twee dekades by liefdadigheidswerk in die stad betrokke. In 2004 was sy president van die Capricorn Rotariërklub en het ook haar gewig by die DBV ingegooi.
Die egpaar was die afgelope twee jaar bestuurders van Bella Vista Tehuis met die uitsondering van vier maande wat hulle in Pretoria deurgebring het om nader aan hulle kinders te wees. Hul diep gesetelde liefde vir die inwoners het hul in November verlede jaar teruggelok waar hulle weer die leisels by die tehuis opgeneem het.
Arij sê Ria het ‘n baie sterk visie vir die uitbou en bedryf van Bella Vista gehad. “Sy het ‘n passie vir die inwoners en bejaardes gehad en was ‘n diep gelowige.” Hy sonder haar organisasievermoë en liefde vir hul kinders en kleinkinders uit.
Ria word deur Arij en ‘n dogter, Marinda, wat in Pretoria woon, Arij se kinders, Arij jnr, Pieter en Jacolette en hul gades asook tien kleinkinders oorleef.
Sy word Vrydag om 11:00 in ter ruste gelê waarna ‘n roudiens by Makarios Lodge gehou sal word.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com