full screen background image
Agt onderbene van renosters is op ‘n plaas buite Laphalale gevind.

Renostersterte, -liggaamsdele in boer se koelkamer gevind

334

Antonio Xavier Freitas sou Dinsdag in Lephalale Landdroshof aansoek om borgtog doen nadat hy Vrydag in hegtenis geneem is in verband met die onwettige jag van renosters sowel as die onwettige koop en besit van liggaamsdele.
Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê Freitas is op sy plaas Ringbult in die Steenbokpan-omgewing in hegtenis geneem na ‘n intense ondersoek na sewe renosters wat in November verlede jaar glo op die plaas onthoring en geslag is.
“Die renosters is vermoedelik met vragmotors na Freitas se plaas aangery. Die oorsprong van die diere word nog ondersoek. Tydens die klopjag op Freitas se plaas het die polisie sewe renostersterte, agt onderbene en ander dele van die renosters in ‘n koelkamer gevind. Daar is bewerings dat die horings per helikopter van die plaas verwyder is,” sê Mojapelo.
Deon en Nick van Deventer asook Onwand Muchagowa wat verlede Woensdag in die Makhado Landdroshof in Louis Trichardt vir beweerde renosterstroping verskyn het, sal weer op 13 en 14 Februarie verskyn waar hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Die trio word met die stroping van ‘n renosterkoei en -kalf op ‘n plaas in die Witpoort-distrik sowel as die voorval waar ‘n renoster Desember in die Polokwane Wild­reservaat geskiet en onthoring is, verbind, het die polisie gesê.
Hulle is in Januarie buite Louis Trichardt
aangekeer nadat hulle vermoedelik ‘n renosterhoring wou verkoop. Die broers is glo al voorheen met ‘n landwye renosterhoringsindikaat en verskeie voorvalle in die Kruger Nasionale Park, Bela-Bela en Komatipoort sowel as die Hluhluwe-Imfolozi Park in KwaZulu-Natal verbind. Deon het volgens inligting al vyf jaar tronkstraf weens renosterstropery uitgedien.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com