full screen background image
Renier Gerber en Kamogelo Matloa, twee van die uitblinkers tydens vanjaar se o.18-Cravenweek.

Renier, Kamogelo blink uit tydens Cravenweek

240

Wanneer twee plaaslike rugbyspelers, Renier Gerber van Curro Heuwelkruin en Kamogelo Matloa van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, op die veld draf kan toeskouers uithalerrugby verwag, want dié twee se passie en talent het verlede week die oë tydens die gesogte o.18-Cravenweek laat rek.
Renier is tydens die eerste wedstryd van die toernooi teen Grens Platteland as Speler van die Wedstryd aangewys terwyl Kamogelo tydens die tweede wedstryd teen Grens ‘n driekuns behaal het deur drie keer agter die pale te kuier.
Renier se liefde vir rugby word in sy prestasies weerspieël. Die afgelope drie jaar draf hy elke seisoen in Limpopo-kleure op die veld en hy was verlede jaar deel van die Sewes Cravenweekspan. Hy is ook verlede jaar vir die nasionale Curro Heuwelkruin Sewesspan gekies en is tydens die nasionale toernooi as Speler van die Toernooi aangewys. Daarbenewens is hy in die o.18-Akademieweek ingesluit en draf die afgelope twee jaar trots vir sy skool se eerstespan uit.
“Ek speel ook hokkie en tennis, hoewel rugby my gunsteling bly omdat ek die spel goed verstaan en elke oomblik op die veld geniet. Die Cravenweek was ‘n onvergeetlike ervaring met ‘n span wat goeie veggees in al die wedstryde getoon het,” sê Renier wat skrumskakel speel en die Limpopo Blou Bulle se onderkaptein was. Hy beoog om sy rugbyloopbaan na skool voort te sit terwyl hy verder studeer.
Volgens hom moet ‘n goeie skrumskakel vinnig besluite kan neem omdat die spel groten­deels deur dié speler beheer word.
Vir Kamogelo was die Cravenweek senutergend totdat hy sy eerste drie gedruk het. “Dit was ‘n onbeskryflike ervaring juis omdat dit die eerste keer is wat ek vir dié toernooi gekies is. Ek het elke jaar tydens die finale ronde proewe uitgeval. Om deel van die Cravenweekspan te wees was nog altyd my droom en ek is trots op my prestasie. Dit is beslis die beste manier om my rugbyloopbaan op skool af te sluit,” sê die graad 12 Tommie.
Kamogelo het as bulletjie rugby begin speel en as graad 6- en 7-leerder van Laerskool Pietersburg-Noord Primary vir die skool se eerstespan uitgedraf. Die afgelope twee jaar is hy deel van Tommies se eerste­span en was verlede jaar reserwe vir die Limpopo Sewesspan.
As regtervleuel meen Kamogelo spoed en ‘n goeie skopskoen is be­lang­rike eienskappe van ‘n goeie speler. Beide spelers is nog onse­ker oor wat en waar hul volgende jaar gaan studeer, maar is dit eens dat rugby beslis prioriteit sal geniet.
Hoofafrigter van die Cravenweekspan, André Hay sê dit was een van die beter toernooie waaraan Limpopo deelgeneem het en twee van hul drie wedstryde gewen het. “Daar was nie een speler wie se ego hom oorweldig het nie. Die span het uit 23 seuns bestaan wat net rugby wou speel en nooit moed verloor het nie. Hul dissipline en prestasies was uitste­kend. Dit was ‘n voorreg om deel van die groep te wees wat Limpopo se naam hoog gehou het.”

Story and photos: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com