full screen background image

Refentse steel harte in Afrikaans

311

“Ek is aangenaam verras deur die vriendelikheid van die mense in Polokwane, maar die plek is vreeslik warm,” het Refentse Morake geskerts.
Dié gewilde sanger se optrede verlede Woensdagaand by Bolivia Lodge het groot byval gevind en sy weergawes van bekende Afrikaanse liedjies het die gehoor met heimwee na vervloë dae teruggevoer. Met sy unieke vertolking van liedjies soos ‘Outa in die langpad’, ‘Ek wil huis toe gaan’ en Hier’s ek weer’ het hy gaste se lagspiere geprikkel.
Refentse is aan die begin van 2015 deur ‘n vrou ‘ontdek’ toe hy in die tuin van sy ouerhuis in Vereeniging Afrikaanse liedjies gesing het. Sy het ‘n video van hom geneem en dit op sosiale media versprei.
“Die video het met 30 000 kykers die eerste dag die hoogte ingeskiet, tot 120 000 vier dae later en mettertyd my stoutste verwagtinge oortref,” het Refentse aan Polokwane Observer gesê.
In April 2015 het hy tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgetree toe sy gunstelingsanger, Karen Zoid vir hom ‘n R10 fooitjie van gegee het. “Daardie aand het die organiseerders van die fees my ‘n musiekkontrak aangebied en my loopbaan het begin.”
Die geleentheid is deur graad 12- leerders van Curro Heuwelkruin se ouers gereël.
Plaaslike sanger Mischa Bekker het vooraf opgetree.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Refentse Morake sing sy weergawe van ‘Outa in die langpad’.

Aanhangers van Refentse, middel, is Tinus Venter, Chanté de Vos, en Michelle en Pierre Kachelhoffer.

Plaaslike sangeres Mischa Bekker tree tydens die voorprogram op.