full screen background image

Redimed vier 21 jaar van dienslewering en omgee

1234

Die afgelope 21 jaar het die Redimed Mediese Praktyk eenstrykdeur uitstekende diens aan hulle pasiënte gelewer. In 21 jaar was hierdie 24-uur praktyk se deure nog nooit gesluit vir die publiek nie.
In ‘n tyd wat Suid-Afrikaners soms moedeloos raak, is Redimed ‘n lig wat skyn in die donker. Die dokters en personeel se harde werk en kundigheid is ‘n sprekende voorbeeld van die uitstekende mediese sorg wat in Polokwane beskikbaar is.
Redimed het in 1994 as ‘n idee in dr Gideon de Kock se weermaghuis begin. Dr Arno Greyling wou ‘n nuwe praktyk begin en daar in dr de Kock se huis het die twee dokters begin om hul planne te smee.
Hulle het besef dat daar reeds baie mediese praktyke in die destydse Pietersburg was en dat hulle iets moet doen om uit te staan bo die res. Dit was uiteindelik dr. De Kock wat met die ‘skrikwekkende idee’ na vore gekom het; hulle sou ‘n praktyk begin wat 24 uur elke dag oop sou wees.

Drs De Kock en Greyling het besef hulle sou nie alles alleen kon behartig nie en het nog twee vennote ingetrek, dr Maryke Wessels en dr Derick Jordaan. Oor die volgende paar maande het die vier hul planne uitgelê en die nuwe praktyk beplan. In hierdie tyd het dr Greyling in Engeland gaan werk en só gehelp met die befondsing van die nuwe praktyk.

Op 5 Desember 1994 het Redimed uiteindelik hul deure op ‘n perseel in Thabo Mbekistraat oopgemaak.
Redimed se eerste pasiënt was ‘n jong meisie wat van haar perd afgeval het. Die dokters onthou hoe senuweeagtig hulle was en hoe hulle gestry het oor wie hierdie meisie moet ondersoek en behandel. Uiteindelik het dr Greyling die eer te beurt geval om hul eerste pasiënt te sien, omdat hy as mees senior vennoot beskou is.

In die beginjare was Redimed piepklein met slegs twee spreekkamers, ‘n apteek en ‘n ontvangsarea. Die dokters het na ure op ‘n matras agter die toonbank geslaap en self die papierwerk behartig.
Redimed was van dag een af toegewy aan die gemeenskap. In die eerste paar jaar van hulle bestaan het die dokters ‘n rondgaande kliniek in die Sekhukhune-area bestuur. Hulle het Woensdae beurte gemaak om in hul bakkie met ‘n karavaan te klim en na hierdie landelike gebied uit te reik.

Redimed se dokters het ook narkosesessies by die Polokwane Provinsiale Hospitaal waargeneem en die praktyk was op ‘n stadium ook as distriksgeneesheer geregistreer.
As distriksgeneeshere het die dokters met moeilike gevalle gewerk en die polisie het in alle ure pasiënte gebring op wie toetse gedoen moes word.
In 1998 het die vennote besluit dat hulle Redimed na ‘n perseel nader aan die hospitaal moes skuif en hulle het die grond waarop die huidige praktyk in Groblerstraat staan, gekoop.
Uiteindelik is die nuwe perseel van Re-dimed in 2003 amptelik deur ‘n bekende sjirurg van Polokwane, dr David Conjé geopen.
In 2008 het die praktyk in Thabo Mbeki-straat na die Standard Bank-gebou in Schoe-manstraat geskuif waar dit vandag nog ‘n integrale deel van Redimed is. Die praktyk in Groblerstraat is ‘n 24-uur praktyk terwyl die praktyk in Schoemanstraat van 08:00 tot 17:00 oop is in die week.

Oor die jare het die vennote aangegroei tot die huidige agt dokters wat tans by Redi-med werksaam is, gereed om pasiënte met uitstekende mediese sorg te help.
Redimed se personeel is trots op die feit dat die gemeenskap hulle ken as ‘n praktyk wat altyd die ekstra myl loop om pasiënte te help. Só hanteer die praktyk ook pasiënte se reëlings wat mediese fondse, spesialisafsprake en hospitaalbesoeke insluit.
Redimed lewer ook gratis gemeenskaps-dienste aan ‘n plaaslike ouetehuis en verskeie kinderhuise.

Deur die jare het Redimed verskeie personeellede gesien kom en gaan, maar is trots om te sien hoe voormalige werknemers uitblink op ander werksgebiede. Daar is egter ook ‘n hele paar personeellede wat reeds 15 jaar en langer by hierdie praktyk werksaam is en bydra tot die kwaliteit van pasiëntediens.
Volgens Sonya van den Heever, praktykbestuurder, kan Redimed se sukses toegeskryf word aan harde werk, toewyding en uitstekende spanwerk.
“Ons is dankbaar teenoor God vir sy guns en die goeie gesondheid om die werk te doen wat ons hier doen. Ons is ook dankbaar vir wonderlike vaardighede, die liefde wat ons vir mense kan wys en deursettingsvermoë.”