full screen background image
Kobus Venter, dirigent.

PUK-koor, gehoor en musiek kom byeen

140

Die veelbekroonde NWU PUK-koor, wat vanaand (Donderdag) en môreaand aan die Wêreldkoorspele in Pretoria deelneem, het Saterdagaand in Polokwane as deel van hul reses konserttoer opgetree en koorentoesiaste meegevoer.
Sopraan, Alida Rabé, en bas, Frans Venter, se tuisdorp is Polokwane, terwyl sopraan, Marguerite Olivier, van Thabazimbi en tenoor, Hanru de Vos, van Mookgophong afkomstig is.
Volgens diri­gent, Kobus
Venter, bestaan die koor sedert 1955 en het vanjaar 56 lede. Die koor onderneem jaarliks ‘n toer na dele van die land en Namibië en toer driejaarliks oorsee.
In 2014 het die koor ook aan die Wêreldkoorspele in Letland deelgeneem en twee goue medaljes ingepalm. Hul laaste oorsese toer was in 2017 na Europa waar hulle in Oostenryk aan Der Internationale Chorwettbewerb deelgeneem het en die gesogte Publikumspreis as die publiek se gunstelingkoor verwerf het.
Saterdagaand se program het gewilde koorstukke soos Cantate canticum novum van Dan Forrest, Kyler McGehee se verwerking van Chandelier Twisted Measure en Bleibe, abend will es werden van Albert Becker ingesluit.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Die NWU PUK-koor tree by die Gereformeerde Kerk Pietersburg op.

Medeleraar van die Gereformeerde Kerk Pietersburggemeente, Sarel Venter, en sy vrou, Tialeen.

Pastoriepaar, Karin en Retief Gouws en Dewald Hattingh, voorsitter van die Silwerdoppers wat die konsert gereël het, met Melandi en Joané Gouws, voor.

Gaste, Hennie en Lynn-Marié Combrink en Pieter en Barbara Nagel met Nina en Lieze Combrink, voor.