full screen background image

Privaatspeurder se jakkalsstreke: diefstalklag word ondersoek

1054

‘n Saak van diefstal word ondersoek nadat ‘n bekende privaatspeurder in die stad glo aangebied het om ‘n 25-jarige ma as middelman met haar egskeidingsaak te help, maar blykbaar nog geen diens gelewer het sedert hy drie maande gelede ‘n deposito van R5 000 vir sy werk betaal is nie.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het verlede week die saak by die Polokwane polisiestasie aanhangig gemaak nadat sy sowat drie maande gelede besluit het om van haar man te skei en regshulp ingewin het.
“Dié speurder het daarna op sosiale media gesien dat ek net ‘n foto van myself op my profiel het en navraag daaroor gedoen. Ek het hom vertel dat ek besig is om te skei en hy het dadelik gesê dat dit deel van sy werk as privaatspeurder is om vrouens tydens hul egskeidings te help om die proses te versnel.”
‘n Ontmoeting is gereël waartydens hy glo gesê het dat hy baie ondervinding as middelman tussen ‘n vrou wat van voorneme is om te skei en haar regspan het en ken al die kortpaaie om die saak vinnig te finaliseer.
“Hy het gesê dat sy diens in totaal R15 000 kos, maar R5 000 deposito vereis wat ek onmiddellik betaal het. Daarna het ons ‘n paar keer telefonies gekommunikeer, maar het my nooit ingelig oor hoe die saak vorder nie, ook nie oor sy aandeel in die proses nie,” sê sy.
Sy het hom telkens geskakel en boodskappe gelos waarop hy glo nie gereageer het nie. Dié enkele kere wat hul wel kommunikeer het was hy vol leë beloftes en verskonings dat hy baie besig is, maar wel aan haar saak werk.
“Hy het heeltyd daarop aangedring dat ek die uitstaande R10 000 moet betaal, maar ek het geweier en gesê hy moet eers bewys dat hy aan my saak werk. Hy antwoord nie my oproepe nie en ek weet nie waar hy bly nie. Volgens my is ek bedrieg en van R5 000 beroof.”
Maphure Manamela van die provinsiale polisie se kommunikasie-afdeling het bevestig dat ‘n saak Vrydag aanhangig gemaak is en ondersoek word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com