full screen background image
Plaaslike uitblinkerskut, Tinus Botha, neem volgende maand aan die Europese Geweerskietkampioenskappe in Swede deel.

Praktiese skiet veel meer as ‘n sport vir Springbok, Tinus Botha

478

Plaaslike sportskietpresteerder, Tinus Botha, se volgehoue prestasie in praktiese skiet het hom al tientalle toekennings besorg, maar vir hom gaan dit eerder oor die kameraderie en die uitleef van sy passie as medaljes.
Dié 48-jarige beskeie presteerder het tydens die Afrika Area Praktiese Skietkampioenskappe wat verlede week in die stad gehou is en ongeveer 400 deelnemers van regoor die wêreld gelok het, drie medaljes verwerf – vir sy algehele vyfde plek in die klassieke-afdeling en as deel van die Limpopospan wat ‘n algehele derde plek in dieselfde afdeling behaal het.
Nóg ‘n medalje is aan hom toegeken as kompetisiedirekteur vir sy insette om die 25 bane buite die stad te bou, al die reëlings te tref en toe te sien dat die kampioenskappe seepglad verloop. Skuts van onder meer Rusland, Nederland, Switserland, Australië en Swede het meegeding.
Benewens die prestasie het Botha onlangs weer Springbokkleure verwerf en sal Suid-Afrika volgende maand tydens die Europese Geweerskietkampioenskappe in Swede verteenwoordig. ‘n Skut moet volgens hom aan minstens drie nasionale kampioenskappe deelneem waarvan die twee bestes se punte saamgevoeg word om ‘n gemiddeld te kry en daarvolgens vir die Springbokspan gekies te word.
Botha het in 2010 vir die eerste keer Springbokkleure verwerf het, is al verskeie kere as die nasionale 3-geweerkampioen (pistool, haelgeweer en geweer) aangewys en het ‘n reeks presidentsmedaljes vir uitnemende prestasies tydens nasionale kompetisies verower. Verder het hy al twee keer aan die geweer- en haelgeweer wêreldkampioenskappe deelgeneem, twee Europese kampioenskappe bygewoon en al sonnige Suid-Afrika op die wêreldverhoog in Bulgarye, Hongarye en Rusland verteenwoordig.
“Die kameraderie tussen skuts en vriendskapsbande wat ge­smee word is vir my baie belangriker as ‘n medalje. Alhoewel ons kompeterend is, is ons ‘n groot groep vriende. Die lekkerste deel is die diversiteit van die uitdaging – niks is ‘n gegewe nie. Dit is ‘n sport wat jou skietvaardigheid onder druk toets want die adrenalien pomp konstant en jy moet vinnig op jou voete dink om binne die vinnigste moontlike tyd die beste te presteer, sê Botha.
Volgens hom is dissipline en veiligheidsmaat­reëls die belangrikste faktore wanneer vuurwapens hanteer word. “Veiligheid kom eerste tydens oefening en kompetisies. ‘n Fratsongeluk gebeur so vinnig dat ‘n mens geen kans op die skietbaan kan vat nie.”
Botha meen toewyding bring sukses. “’n Goeie skut stel doelwitte en oefen met oorgawe om dit te bereik. Ek bly deurentyd gefokus en werk hard om te verbeter.”
Hy is lid van die Polokwane Praktiese Skietklub, voorsitter van Pins Extreme Kegelskietklub en ‘n erelid van die Polokwane Weermag Skietklub, maar spits hom veral toe op opleiding van jong skuts en beginners en is tans die opleidingsbeampte vir praktiese skiet in Limpopo. “As iemand belangstel moet hy met mense skakel wat die sport beoefen. Ek en ander professionele skuts is bereid om beginners (novises) onder ons vlerk te neem en te help. Sukses hang af van jou doelgerigtheid en bereidwilligheid om te leer en aan te hou,” meen Botha.
Praktiese skiet behels dat skuts vanuit verskillende posisies op strategies-geplaaste teikens binne ‘n beperkte tyd moet skiet.

Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com