full screen background image
Polokwane Ultimates-speler, Grant Cahn, gooi die skyf verby spanmaat en afrigter, Retief Booysen, tydens ‘n oefensessie.

Polokwane Ultimates onder top tien in SA

224

Ultimate frisbee vereis topfiksheid en goeie hand-oog-koördinasie. Die sportsoort staan amptelik as ‘Ultimate’ bekend omdat frisbee ‘n geregistreerde handelsmerk is.
Polokwane Ultimates hou die stad se naam op nasionale vlak hoog en is tans onder die top tien spanne in Suid-Afrika nadat hulle in Oktober uitstekend tydens die Suid-Afrikaanse Gemengde Nasionale Ultimate Kampioenskappe in Johannesburg gevaar het.
Die adrenaliengevulde spel is ‘n niekontaksport met 12 tot 18 spelers in ‘n span, waarvan daar net sewe gelyk op die veld mag wees. ‘n Gemengde span moet ten alle tye minstens drie vrouespelers op die veld hê. ‘n Skyf van 175 g moet in die opponente se doelgebied gegooi word om punte aan te teken. Die span wat eerste 21 punte aanteken, wen die wedstryd. Spelers mag nie met die skyf in hul hande beweeg nie, behalwe om op een voet te roteer en moet die skyf binne tien sekondes na ‘n spanmaat gooi. Die skyf is swaarder as ‘n gewone frisbee en afstande van tot 75 m kan behaal word.
Afrigter, Retief Booysen, sê hulle verwelkom alle spelers en die enigste vereistes is die wil om te leer en te oefen asook ‘n paar rugbystewels om goed vas te kan trap. Fiksheid speel ‘n belangrike rol omdat spelers vinnig oor die veld moet beweeg. Belangstellendes word uitgenooi om oefeninge elke Maandag van 18:00 tot 20:00 op Hoër Tegiese Skool Tom Naudé se B-rugbyveld by te woon.

Storie en foto’s: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za

Lazya Greyvensteyn is te vinnig vir Petrich Brits se verdediging.