full screen background image
Van die koperkabels wat tydens ‘n operasie gekonfiskeer is.

Polisiedeurbraak in stryd teen provinsie se koperdiewe

123

Twee verdagtes sal binnekort in drie verskillende howe op onder meer ‘n klag van die onwettige besit van koper verskyn nadat hulle verlede week tydens ‘n intelligensiegedrewe polisie-operasie aangekeer is.
Die beskuldigdes sal in Nkowankowa, Pha­laborwa en Tzaneen op ‘n reeks soortgelyke aanklagte verskyn.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê koper en ander items met ‘n gesamentlike waarde van sowat R4 miljoen is tydens die twee se inhegtenisneming gekonfiskeer.
“Diefstal van koper en ander minerale is ‘n kommerwekkende misdaad omdat dit die ekonomie en veral die besigheidsektor aanhoudend negatief beïnvloed. Daarom het ons verlede week die operasie uitgevoer om twee verdagtes in twee afsonderlike voorvalle in Phalaborwa en Tzaneen vas te trek,” sê Ngoepe.
Hy sê koper van ‘n mynmaatskappy in Pha­laborwa, aluminiumkabels van Eskom, koperkabels van Transnet, ‘n skaal en vyf voertuie is in die twee se besit gevind.
Die oorsprong van die voertuie sowel as ‘n groot hoeveelheid ongemerkte koperkabels word nog ondersoek.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com