full screen background image
Ecstasy-tablette ter waarde van R157 550 is in Bela-Bela gevind.

Polisie slaan toe in Limpopo, lê beslag op dwelms

452

Die polisie in Limpopo se pogings om dwelmverwante misdade hok te slaan duur onverpoos voort en verskeie eenhede het Sondag op dwelms ter waarde van R239 570 beslag gelê en 28 verdagtes gearresteer.
Lede van die provinsiale dwelm- en honde-eenhede het met ander relevante eenhede in onderskeie streke regoor die provinsie saamgespan om booswigte aan te keer.
‘n Groot hoeveelheid van die dwelm, ecstasy is in die vorm van 1 017 tablette ter waarde van R157 550 in Bela-Bela gevind. Byna R80 000 se dagga is ook in verskeie gebiede regoor die provinsie gevind.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê vyf verdagtes is in Burgersfort aangekeer en twee sakkies ‘rocks’ (crack), 5 g nyaope, 17 sakkies nyaope, ongeveer 100 g dagga, twee voertuie, ‘n pistool en ammunisie in onderskeidelik in hul besit gevind.
In Bela-Bela is agt verdagtes gearresteer nadat die ecstasy-tablette in hulle besit gevind is. Die polisie het verder ‘n Volkswagen Golf, skootrekenaar en houers wat met waarskynlik gesteelde brandstof gevul was, gekonfiskeer.

‘n Vuurwapen en ammunisie is ook gekonfiskeer.

In Jane Furse is ‘n 24-jarige man gearresteer nadat hy in besit van 4,8 kg dagga ter waarde van R8 000 gevind is en in Westenburg is ‘n 31-jarige man vas nadat hy met 20 kg dagga ter waarde van R70 000 betrap is.
“Die polisie het ook op verdagtes in Groblersdal, Seshego, Northam en Giyani toegeslaan en nege mense is op aanklagte van dwelmbesit, diefstal en huisbraak aangekeer. Die polisie het op dagga, R6 170 in kontant, vier spreiligte, ‘n tas vol gesteelde klere en ‘n vuurwapen beslag gelê,” sê Ngoepe.
Die verdagtes sal gedurende die week in verskeie howe regoor die provinsie verskyn.
Ngoepe het gewaarsku dat kriminele se dae getel is omdat die polisie byna daagliks operasies van stapel stuur om misdadigers aan te keer en skuldiges aan die pen te laat ry.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com