full screen background image
‘n Polisiebeampte laai daggaplante agter in ‘n polisievoertuig wat by ‘n verdagte se huis in Tshitale gevind is.

Polisie slaan toe – 55 vas vir dwelms

832

Meer as 50 verdagtes het reeds in verskeie howe regoor die provinsie op aanklagte van onder meer die besit van en kweking van dagga en die besit van dwelms verskyn nadat hulle verlede week tydens ‘n reeks intensiewe operasies deur die polisie aangekeer is.
Volgens die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, is die operasies suksesvol regoor Limpopo gehou om dagga- en dwelmverwante misdade hok te slaan.
In Dennilton, Levubu, Lephalale, Lebowa­kgomo, Motetema, Groblersdal, Tshitale en Waterval is altesaam 55 oortreders aangekeer. In Dennilton is ‘n man gearresteer nadat hy in besit van 83 sakkies kokaïne gevind is en in Motetema en Groblersdal is 29 verdagtes vir die besit van dagga aangekeer.
Nog ‘n deurbraak is in Tshitale gemaak waar minstens 80 plante wat meer as 45 kg geweeg het gekonfiskeer is terwyl vier ver­dagtes van Waterval vir die kweek van dagga ter waarde van R25 000 gearresteer is. Meer as 160 daggaplante, tien bokse verwerkte dagga en 3 527 g dagga sowel as 105 sakkies nyaope is tydens dié operasie gekonfiskeer.
Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba, het beamptes vir hul harde werk bedank en gesê die polisie sal nie hul aanslag teen dagga en dwelms verslap nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

‘n Polisiebeampte tussen daggaplante in ‘n plantasie.

Groot hoeveelhede daggaplante word deur die polisie in Waterval verwyder.