full screen background image
Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-Gifinligtingsentrum. Links: Die Herfskommandowurm.

Plan teen plaag gereed vir boere­

225

Amptelike bevestiging word afgewag oor die moontlike verskyning van die herfs-kommandowurmplaag in Suid-Afrika en larwes is op eie bodem so naby as Mokopane aangetref. Die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye het egter reeds ‘n beheerprogram gereed het om boere by te staan om die plaag op die mees doeltreffende en omgewingvriendelike wyse te hanteer.
‘n Boer van Mokopane, wat anoniem wil bly, het Woensdagoggend aan Polokwane Observer bevestig dat hy larwes in sy lande ontdek het en dit vir ontleding aan die department beskikbaar gestel het. “Ek het intussen nog nuwe larwes gevind en wag vir terugvoering van die department,” sê hy.
Jan Hendrik Venter van die department het ook Woensdagoggend bevestig dat die larwes wat vanuit die Mokopane-omgewing ontvang is, eers positief geïdentifiseer sal kan word sodra motte hul verskyning maak. “Ons kan ook nie sê wanneer die motte gaan uitbroei nie omdat die larwes nog nie geïdentifiseer is nie,” het hy verduidelik. Hy het ’n beroep op boere gedoen om hom by 072 348 8431 of 012 319 6384 te skakel indien enige verdagte wurms op plase opgemerk word.
“Die Landbounavorsingsraad se biosistematiek-afdeling by die Instituut vir Plantbesker­ming op Roodeplaat sal amptelik bevestig of dit wel die herfs-kommandowurm is wat teen piretroïed-beheermiddels weerstandig mag wees,” verduidelik Venter.
Gerhard Verdoorn, plaagbestrydingspesialis en direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, het aan Polokwane Observer bevestig dat berigte van die moontlike aanwesigheid van dié wurms in die Vrystaat en ander dele van die land ook ontvang is.
“Die wurmpie het almal op hol, selfs sover as Namibië se noorde,” sê Verdoorn wat bereid is om behulpsaam met die identifikasie van die motte te wees. Hy kan by 082 446 8946 of nesher@tiscali.co.za bereik word.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com