full screen background image
Alta Kriegler, op Kitima Maheera, en Zané Barnard, op haar perd, Sumika Zafox, neem aan die nasionale kampioenskap in Fauresmith deel. (Foto's: Verskaf)

Plaaslike ruiters presteer in Fauresmith

255

Vyf ruiters van die Capricorn Uithouritklub het uitsonderlik presteer toe hulle onlangs altesaam 10 top plekke in die Nasionale Uithouritkampioenskap in Fauresmith behaal het.
Yolandi van der Klashorst en haar perd, Kitima Silver Dream, het eerste in die liggewigafdeling in ‘n tyd van 8:03.25 geëindig. Hul was ook die algehele wenners en het Endurance Ride Association of South Africa (Erasa)-erekleure vir hul puik prestasie ontvang.
In die juniorafdeling het Leone de Kok en haar perd, Mardien Shakira, ‘n tweede plek behaal (8:10.57), terwyl Zané Barnard en haar perd, Sumika Zafox, in ‘n tyd van 8:59.15 ‘n tweede plek in die kinderafdeling behaal het. Alta Kriegler het sewende in die standaardgewigafdeling met haar perd, Kitima Maheera, geëndig en nog ‘n kinderruiter, Lente Schutte en haar perd, Yentl Samih, het negende geëndig. Die Nasio­nale Uithouritkampioenskap het volgens Kayla Hairbottle, beide ruiters en perde se uithouvermoëns tot die uiterste getoets. “Ons is trots op ons ruiters wat so goed presteer het. Goeie ruiterkuns is toegepas om sulke uitslae te kry,” sê Hairbottle.
“Vanjaar was daar 400 inskrywings waarvan slegs 202 perde die rit kon voltooi. Van die perde het geringe bese­rings opgedoen as gevolg van die ruwe terrein terwyl ander krampe gekry het van die koue. Daar was deurentyd veeartse teenwoordig en be­slissings dat perde moet onttrek, is selfs na ‘n paneel verwys. Daar was ook ruiters wat hul perde weens uitputting moes onttrek,” sê Rioni Combrink, klubsekretaresse.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Lente Schutte en haar perd, Yentl Samih.

Yolandi van der Klashorst met haar perd, Kitima Silver Dream, is die algehele wenners in die liggewigafdeling van die Nasio­nale Uithouritkampioenskap.