full screen background image

Pietersburg Dorp wen Boet Fick-reserweliga

305

Louis Trichardt en die Universiteit van Limpopo (UL) het die naweek gasheer vir die finale wedstryde van die Boet Fick-rugbyligas gespeel. Die reserweliga-finaal is tussen UL en Pietersburg Dorp Rugbyklub besleg. Dorp het hul uitstekend van hul taak gekwyt en met 19-8 gewen. Johan Engelbrecht het hul enigste drie gedruk. Juan Vos het sy skopskoen aangehad en ‘n geslaagde doelskop, twee strafskoppe en twee skepskoppe oor die pale geklits.
Organiseerder en spanbestuurder, Pierre Venter sê dit was ‘n moeilike jaar vir die klub, maar namate die seisoen gevorder het, het dit beter gegaan.
“As spelers kan volhou met dieselfde gesindheid wat hulle die laaste wedstryde geopenbaar het, kan die klub in die toekoms net beter doen. Oor die algemeen het die spelers goeie kameraadskap getoon wat die wentelling in die finaal weerspieël het,” sê Venter. Pietersburg Dorp het Seshego Rugbyklub finansieel ondersteun deur hul reiskoste gedurende die liga te borg. “Seshego het ook goed gevaar en vir die eerste jaar tot die finaal deurgedring, maar ongelukkig met 0-60 teen Messina Rugbyklub verloor. Ons het sakelui en die gemeenskap se ondersteuning nodig. Daar is baie talent in Limpopo se ontwikkelingspanne en hulle het borge nodig om ‘n gevestigde klub te word wat belowende spelers ontwikkel,” sê Venter.
Vir inligting oor hoe om betrokke te raak, kan Venter by 078 225 1709 geskakel word.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com