full screen background image

Pieter de Villiers, vermaak uitgelese gehoor

155

Boorling van die stad en tans ‘n musiekonderwyser in die Laeveld, Pieter de Villiers, het gaste Vrydagaand tydens ‘n optrede by NG Kerk Pietersburg-Noord met gewilde Afrikaanse en Engelse liedjies waarvan sommige sy eie komposisies is, vermaak.
De Villiers is ‘n kunstenaar van vele talente, wat sy eie klank behartig en instrumente eiehandig voor sy optrede opstel. “Net ek weet hoe om dit presies reg te doen,” het hy verduidelik terwyl die gehoor sy gewerskaf op die verhoog gadegeslaan het.
Die program is ingelei met ‘n duet deur sy ma, Gisela de Villiers, en Robert Brooks, tenoor en opera- en konsertsanger. Hul weergawe van ‘Torna a Surriento’, wat in 1902 deur Ernesto De Curtis gekomponeer is, het die gehoor in die regte stemming vir vermaak uit die boonste rakke gebring.
Pieter het ook later vir Gisela op die vleuelklavier begelei toe sy die gehoor met ‘Amazing Grace’ aan haar voete gehad het.Die res van die vertoning het die aard van liefde ondersoek en musiek van Jacques Brell inge­sluit. Die gehoor is op ‘n bittersoet musiekreis geneem en het baie stof tot nadenke gehad.
Die talentvolle musikant se eie komposisies, ‘Hier vanaand’ en ‘Thys se huis’ asook ‘Poisoning pigeons in the park’ van Tom Lehrer was deel van sy repertoire en het groot byval by die gehoor gevind.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Gisela de Villiers en Robert Brooks lei die program in met ‘Torna a Surriento’.