full screen background image
Die graad 12-dirigente met Kardoesie nadat hulle as wenners aangewys is. Die graad 12-leerders het ook die beste dirigente, kreet en dissipline en is saam met die graad 8-leerders geloof vir die mees oorspronklike tema. (Foto's: RC Myburgh)

PHS se Kardoesie behoort aan graad 12’s

523

‘n Kakofonie van klank, kleur en kontras het hom uitgespeel toe leerders van Pietersburg Hoërskool (PHS) mekaar Dinsdagaand tydens die jaarlikse kragmeting tussen grade die stryd aangesê het.
Tydens Kardoesie ding die vyf grade se leerders mee vir die groot prys – ‘n pop geklee in PHS uniform – wat ingevolge volgehoue tradisie aan die span gaan wat onder meer met hul tema, lyndans en kreet uitstaan.
Vlugvoetige danspassies en heupswaaimusiek op die pawiljoen het die beoordelaars beïndruk, maar dit was die verdedigende graad 12-groep wat vir die agtereenvolgende jaar met die trofee huis toe is.
Vanjaar se program het met die graad 11-groep begin wat die Spaanse tema in rooi en swart uitgebeeld het, waarop die graad 9-leerders hul weergawe van die Olimpiese Spele vertoon het.
Die graad 10-groep het met ‘Get the Message’ en treffende kleurvolle uitrustings wat sosiale media-boodskappe voorgestaan het, die res van die skool aangevat.
Die graad 8’s se slaankrag het in hul rooi-en-wit lewensreddertema gelê, wat uitgelig is met die gebruik van reuse opblaashaaie en reddingsboeie.
Vir die seniors het die uitlewing van hul ‘School Of Rock’-keuse, hul dirigente in ‘bling’-kostuums en ‘n oorverdowende kreet onder meer ‘n globale 85%-wenplek verseker.
En só was die koue wat deur murg en been gesny het summier iets van die verlede.

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Die graad 8-leerders het beoordelaars verbaas met hul tema ‘Life Guards’ en ‘n algehele tweede plek verower.

Selma Müller en Dewald Stroebel in graad 12 wys hoe hulle rock.

Die beoordelaars is voor Jessica Hattingh en Louis Geyer en agter, Hesti Wentzel en Leopold Senekal.

Odine Swanepoel, ‘n graad 8-dirigent.

Die graad 11-leerders met die tema ‘Another in Spain’ is algeheel derde.

Die graad 9-leerders is laaste op die telbord met hul tema ‘Olympics.’

Die graad 10-leerders eindig algeheel vierde met hul tema ‘Get the message.’

Hoofseun en -meisie, André Viljoen en Timoné Wagner arriveer met Kardoesie.

Graad 8-dirigent, Cor Müller lei die graadgroep.

Roy Stewart in aksie met die graad 10-leerders se ‘Get the message.’