full screen background image

PHS moet eksamen uitstel weens kragonderbreking

363

‘n Kragkabel wat klaarblyklik vanoggend (Donderdag) deur kontrakteurs beskadig is, het ‘n kragonderbreking in die omgewing van Dorp- en Hospitaalstraat sowel as dele van Industria veroorsaak en ook daartoe bygedra dat graad 10-leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) se rekenaartoepassingstegnologie (RTT)-eksamen uitgestel moes word.
Die skool se skakelbeampte, Anna-Marié Schoeman sê die vraestel is voorlopig tot 14 Junie (Woensdag) uitgestel. “Dit is ongelukkig onvoorsiene omstandighede en nie net ongerieflik vir die leerders nie, maar ook vir onderwysers wat dringend ‘n nuwe vraestel sal moet opstel omdat leerders reeds vanoggend s’n onder oë gehad het,” sê sy.
Hoër Tegniese Skool Tom Naudé skoolhoof, Piet Holtzhausen, sê die skool is nie deur die kragonderbreking geraak nie.
Polokwane Observer het verneem dat die hospitaal ook sonder elektrisiteit is, maar dat kragopwekkers dadelik ingespan is om pasiënte se gesondheid te verseker. Die deapartement van gesondheid se woordvoerder, Thabiso Teffo, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Polokwane Munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Matshidiso Mothapo sê ‘n elektriese kabel is deur ‘n kontrakteur wat waterpype vervang, beskadig en dat die munisipaliteit reeds besig is om aandag die probleem te gee. Hy het bevestig dat die omgewing om PHS geraak word en dat dit ongeveer ses ure kan duur om die kabel te herstel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com