full screen background image
‘n Slaapplek vir haweloses.

Park: hool vir dronkes, sekswerkers

1637

Bewerings van ‘n gefuif, lawaai, rommelstrooiery, leeglêery en prostitusie word vervat in klagtes oor die park oorkant Hoër Tegniese Skool Tom Naudé wat nie net ‘n gesondheidsrisiko vir besoekers aan die park inhou nie, maar inwoners van nabygeleë gebiede warm onder die kraag het.
Sommige verwys na die park op die hoek van Potgieterlaan en Landdros Maréstraat, as Jurassic Park, terwyl ander dit as ‘n varkhok uitmaak.

Vullis lê gestrooi regoor die park.

Polokwane GPF-skakelbeampte, Johan Retters, sê die ontspanningsplek is ‘n verleentheid vir die stad omdat dit aan die N1-noordaansluiting grens. “Benewens die gemors wat dronkaards na ‘n kuiersessie agterlaat, word die park ook as ‘n gebied beskou waar misdaad en onsedelikheid hoogty vier,” sê Retters.
Hy sê probleme in die park word gereeld aan die GPF gerapporteer en die verslae word aan die polisie en selfs die Polokwane Munisipaliteit deurgegee, maar val klaarblyklik op dowe ore. Retters het ‘n brief op 20 Desember aan lede van die GPF gestuur en na die Polokwane polisie gekanaliseer om probleme aan te spreek.

“Die park wek kommer omdat dit deur alkoholgebruik in die openbaar, vullisstorting, geraas, dwelmverante misdaad en prostitu­sie gekenmerk word. Dit word vir sosiale byeenkomste aangewend, maar daar is geen toiletgeriewe nie wat tot gevolg het dat mense oral urineer, wat ‘n gesondheidsrisiko inhou. Sekswerkers bedien hul klante in die park en gebruikte kondome kan regoor die park gevind word,” volgens Retters. Die parkbanke en koeltebome word bedags die slaapplek vir haweloses en in sekere dele kan duidelik gesien word waar diewe hul buit deursoek en dit wat nie van waarde is nie, agterlaat.

Bier- en wynbottels onder ‘n boom.

Hy sê die paaltjies wat verwyder is sodat voertuie tot in die park kan ry en die oprigting van braaigeriewe, is die grootste oorsaak van die probleme omdat dit alkoholmisbruik aanmoedig.
Hy het die polisie en munisipaliteit gemaan om dringend aandag aan die probleem te skenk juis oor die nabygeleë skole in die omgewing.
“Dit is ‘n varkhok. Ek raak woedend oor vullis wat van die park tot by die skoolgrond waai. Dit is ‘n higiëniese ramp wat wag om te gebeur. Ek bly ook naby en sien hoe kinders tussen die stukkende bierbottels in die sandput speel,” sê Tommiehoof, Piet Holtzhausen.
Hy sê mense wat in die park kuier het selfs al vir sekuriteitswagte by die skoolhek gevra om die skool se toiletgeriewe te gebruik, maar Holtzhausen sê hy sal dit onder geen omstandighede toelaat nie.

‘n Bankie bied rusplek vir ‘n leeglêer.

Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba sê die polisie sal daadwerklik patrollies in die park opskerp. Hy het inwoners gemaan om enige verdagte aktiwiteite onverwyld by die sektorbestuurder, sersant Mothwa by 082 728 9835 of André Kotze by 082 414 2314 aan te meld.
In Oktober 2014 toe die Polokwane Munisipaliteit hul planne vir die ontwikkeling van die dam bekendgemaak het, het die inwoners van Eduanpark en Welgelegen ‘n petisie opgestel waarin hulle die ontwikkeling afkeur, juis omdat hulle toe reeds geweet het dié park gaan ‘n probleem word.
Polokwane Munisipaliteit se woordvoerder, Disree Manyane het Dinsdag gesê sy sal eers vandag (Donderdag) kan kommentaar lewer.

Storie & foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com