full screen background image
Adel Cato is tans in die intensiewe sorgeenheid van Mediclinic Muelmed in Pretoria nadat sy Maandagaand deur ‘n motor raakgery is.

Oud-Pietie kritiek beseer na voertuig haar tref

2338

Die twintigjarige, Adel Cato, ‘n oudleerder en gesoute netbalspeler van Hoërskool Pietersburg (PHS) sterk tans in die Mediclinic Muelmed in Pretoria se intensiewe sorgeenheid aan nadat sy Maandagaand naby die Universiteit van Pretoria (Tuks) deur ‘n voertuig raakgery is.
Cato, ‘n tweedejaarstudent aan Tuks, was saam met vriende toe die ongeluk gebeur het. “Hulle het rustig gekuier en van een kuierplek na ‘n ander gestap toe sy om een of ander rede voor ‘n motor beland het,” sê haar pa, Frank.
Sy het erge brein­bloeding opgedoen en dokters het Dinsdagmiddag ‘n monitor in haar brein geplaas om die swelling oor drie dae te monitor. Sy word vir sewe dae onder sedasie geplaas in ‘n poging om te verhoed dat die brein verder swel,” sê hy.
Haar toestand is kritiek, maar stabiel volgens haar pa en al wat hul nou kan doen is om op beterskap te hoop en te bid.
Cato wat in 2016 aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het, het in graad 11 en 12 vir PHS se eerstenetbalspan uitgedraf en is deel van die Gauteng-Noord- en Tuks-netbalspan.
PHS-skakelbeampte, Elmari Craig sê Cato het op skool met haar sagte oë en groot hart haar altyd oor jong spelers ontferm. “Ons bid vir volkome genesing en dink aan haar en haar gesin in hierdie moeilike tyd,” sê Craig.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com