full screen background image
Dewan Gobey en Christelle Swart, hoofleiers van Suidskool, en Reuben Weyer en Izelna Venter, hoofleiers van Oosskool stoei om ‘Blood Buddy’ aan hul kant te kry.

Oos- en Suidskool in bloedbad betrokke

101

Na die onlangse beroep van die SANBS aan bloedskenkers om dringend te skenk weens landwye voorraadtekorte, het Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) en Pietersburg Laerskool (Suidskool) gehoor aan die noodroep gegee en besluit om ‘n tweede bloedskenkdag te hou.
Die twee skole hou jaarliks ‘n bloedskenkkompetisie om te sien watter skool die meeste eenhede bloed insamel deur skenkers te werf. Vroeër vanjaar het Oosskool met die louere weggestap, maar hul ‘aartsvyande’ is slagge­reed om die Osies dié keer op hul neuse te laat kyk. Die leiers van beide skole het dit duidelik gemaak dat hulle vasbeslote is om hierdie ‘bloedbad’ te wen.
Suidskool se skenkers staan vandag (Donderdag) tou, terwyl Oosskool se kliniek Dinsdag by die skool plaasvind.
Volgens Dottie Pinn, skakelbeampte van SANBS Limpopo, is elke skool se mikpunt ten minste 100 eenhede. “Ons vra almal se ondersteuning sodat ons genoeg bloed beskikbaar het voor die vakansie begin,” sê sy.
Polokwane Observer het verlede Donderdag op sy webtuiste berig dat die bloeddiens in Limpopo en die res van die land ‘n ernstige bloedtekeort het.
Om meer uit te vind, besoek www.sanbs.org.za of skakel 0800 11 90 31.
Verskeie bloedskenkklinieke sal in November regoor Limpopo plaasvind. Belangstellendes kan die skenkersentrum in Polokwane by 015 283 3600 skakel.
Die SANBS het ook drie permanente bloedskenkklinieke in Potgieterrylaan 153 in Polo­kwane, Thabo Mbekistraat 99 in Mokopane en Erasmusstraat 27 in Louis Trichardt.

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za