full screen background image
Lede van die munisipale verkeersafdeling konfronteer onwettige motorwerktuigkundiges op die hoek van Grobler- en Iranstraat.

Onwettige motorwerktuigkundiges moet skoert van strate

350

Die voortslepende probleem van motorwerktuigkundiges wat onwettige informele besighede in die sakekern bedryf, verander hopelik eersdaags omdat die Polokwane Munisipaliteit besig is om planne in plek te stel om dié oortre­ders permanent van die strate te verwyder.
Dít nadat daar weer verskeie klagte van besigheidseienaars ingedien is en die munisipale verkeersbeamptes verlede Donderdag booswigte op die hoek van Grobler- en Iranstraat verwyder het.
‘n Anonieme besigheidseienaar in die omgewing sê sy kliënte word daagliks deur die makkers oorval sodra hulle by sy perseel uitstap. Die ‘werktuigkundiges’ hou glo aan dat daar van hul diens gebruik gemaak word tot só mate dat vrouens nie meer besighede in dié omgewing wil besoek uit vrees vir hul veiligheid nie.
Benewens die onwettige wyse waarop hul handel dryf, is dit ‘n seer oog vir besoekers aan die stad omdat ou onderdele en olie op sypaadjies agtergelaat word.
Die munisipale kommunikasiehoof, Matshidiso Mothapo, het erken dat die werktuigkundiges se doen en late nie net ‘n ergernis vir besigheidseienaars is nie, maar ook ‘n negatiewe invloed op die omgewing het. Die munisipali­teit het stappe geneem teen die persone en hul is van die hoek by Grobler- en Iranstraat verwyder, volgens Mothapo.
“Gedurende Julie is minstens drie operasies saam met die munisipale verkeersafdeling, die gemeenskapsveiligheids-afdeling en die polisie gehou om die pro­bleem aan te spreek en verskeie boetes is uitgereik. Soortgelyke operasies word gereeld uitgevoer,” sê Mothapo.
Hy sê die munisipaliteit is tans met ‘n plan besig om die onwettiges te verwyder. “Die plan sal later bekendgemaak word, maar dit sal gereelde patrollies en die uitreik van boetes aan die voertuigeienaars wat van die operateurs se dienste gebruik maak, insluit. Indien voertuigeienaars nie hul voertuie verwyder nadat ‘n boete uitgereik is nie, sal dit geskut word,” sê Mothapo.
Hy sê die departement van binnelandse sake sal ook betrek word omdat sommige operateurs nie voldoende identifikasie het nie.
Hy het besighede aangemoedig om soortgelyk voorvalle by die munisipaliteit se beheerkamer by 015 290 2457/8 aan te meld.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com