full screen background image
Wouter Cronjé en Izel Bezuidenhout, wenpaartjie van Mall of the North en Polokwane Observer se Wen ‘n Troue-kompetisie. In die middel is Amanda Goosen van Amanda haute couture wat Izel se droomskepping gaan maak as deel van hul wenpryse.

Ontwerp van jongs af Amanda Goosen se forte

425

Amanda Goosen het as graad 5-leerder al popklere ontwerp en gemaak, kompleet met ‘n voering, toe haar maats nog pop gespeel het.
“My liefde vir materiaal het toe begin want my tannie het ‘n klerefabriek gehad en vir my lap­pies gestuur wat my einde­loos gefassi­neer het,” sê Goosen, een van die voorste ontwerpers in die stad en hoofborg van Mall of the North en Polokwane Observer se Win a Wedding-kompetisie wat Saterdag plaasgevind het. Sy maak vir die wenbruid, Izel Bezuidenhout, ‘n trourok ter waarde van R15 000.
Voordat sy haar laerskoolloopbaan voltooi het, het sy al vir haar en haar suster en ma klere gemaak en sommer ook konsertklere vir Laerskool Pietersburg-Oos waar sy op skool was.
“My maats het storieboeke saamgeneem as hul vakansie gaan hou het, maar my naaima­sjien is elke vakansie saam en ek het vir ‘n vale klere ontwerp en gemaak.
As Hoërskool Pietersburg-leer­der het sy van graad 9 tot in matriek ‘n deeltydse ontwerpkursus gedoen en rokke ontwerp en gemaak vir vriende en familie en húl vriende en familie, maar kan nie eers onthou of sy ooit ‘n maakloon gevra het nie omdat dit vir haar so bevredigend was.
“My pa, Louis Joubert het daarop aangedring dat ek na skool eers ‘n graadkurus doen ‘om op terug te val’. Nadat ek my B.Comm-graad voltooi het, het ek onverwyld vir ‘n kursus van 18-maande aan die Fashion Design and Management College in Gauteng ingeskryf en elke oomblik daarvan geniet.”
In dié tyd het sy haar eerste trourok vir ‘n vriendin gemaak met wie sy steeds vriende is en vir wie sy steeds klere ontwerp en maak.
Na haar studies het sy en ‘n vriendin aanvanklik ‘n klerefabriek in Polokwane gehad en klere vir boetieks in die stad gemaak. Intussen het sy trourokke begin ontwerp vir privaatkliënte en sedert 1989 onafhanklik begin werk en ‘n kliëntebasis opgebou.
Vandag is Amanda G haute couture ‘n gevestigde vooruitstrewende besigheid waarin sy haarself hoofsaaklik op die ontwerp en sny van eksklusiewe uitrustings toespits waarna drie assistente die stikwerk doen.
“Ek is elke dag entoesiasties oor my werk en geniet dit ‘om die prentjie in te kleur’. Nie eers moeilike kliënte sit my af nie. Ek luister mooi en geduldig en ons gaan gewoonlik kompromieë aan en kliënte vertrou my.” Sy verhuur ook trourokke.
Goosen se wenke aan voornemende bruide
Beplan noukeurig en kies ‘n gemaklike rok wat by jou persoonlikheid, troutema en plek waar jy trou pas en kies ‘n goeie fotograaf wat jou mooiste dag kan verewig.

Storie en foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com