full screen background image
Melbourne se stadsaal oor Kerstyd.

Ons Kersfees het verander, maar bly tog ook dieselfde

371

Willie, Marieta, Robert en Liezl Hanekom woon tans in Melbourne, Australië en deel hul Kersfeesvieringe met Polokwane Observer.
Ons wêreld het baie verander na ons 15-jaar seisoen in Sterpark, Polokwane. Ons bure het nie ‘n rooi kombuis nie en Desembervakansies in Kaapstad saam met my gesin en familie is nie ‘n gegewe nie.
Dit was egter ‘n fase in ons lewe, ‘n geleentheid, om makliker tyd saam met geliefdes te spandeer. Sedert ons sewe jaar gelede na Australië verhuis het, hang ons elke jaar met Kersfees ‘n muur van foto’s van ons familie en is hulle in die gees met ons.
Melbourne het sy eie tradisies en met tyd ontwikkel jy jou eie tradisies. Ons gaan kyk die ‘Myer’ Kersfees-storie in die winkelvensters. Die stadsaal word verlig met ‘n besonderse ligvertoning met Kersmu­siek en ‘n reuse Kersboom langsaan.
Ons eet steeds ons tradisionele Kersete en het geleer om self koekstruif te maak, want tannie Karin gaan dit nie bring nie. Ons kyk ‘Carols by Candlelight’ op Oukersaand.
Ons Kersboom met versierings wat ons saamgebring het, kry elke jaar ‘n enkele nuwe versiering. Laurika Rauch sing Somerkersfees in die agtergrond. Kersdag is rustiger, met net die naastes wat die tog saam aangepak het oor die see, of wat dalk kan vlieg en kom kuier.
Oor die jare het tegnologie baie verander, dis nie meer net ‘n oproep na familie en vriende nie. Jy kan Skype, WhatsApp, FaceTime en foto’s word op Facebook gedeel wat die wêreld ‘n tikkie kleiner maak en jou hartsmense bietjie nader bring.
Só deel ons in mekaar se vreugde regoor die wêreld. Kersfees verander, maar bly tog ook dieselfde.
Ons deel steeds geskenke uit en dit bly ‘n dag wat jy familietyd koester, dankbaar is oor die jaar wat was, en waardeer jou Somer Kersfees in Melbourne.

Koekstruif bly vir die Hanekom-ge­sin in Australië deel van hul Kersfees­spyskaart.